Van Uiltjie tot Ben Viljoener: Klok merk nuwe begin
Met ’n enkele klokslag is jong Hoërskool Ben Viljoen-leerders amptelik verwelkom as deel van ’n groter skoolgemeenskap.
In ware Hoërskool Ben Viljoen-tradisie het die graad agt Uiltjies ’n besondere mylpaal bereik toe hulle vir die eerste keer die klok gelui het om hul hoërskoolloopbaan amptelik te begin.
Die klokluiseremonie is meer as net ’n formele geleentheid – dit is ’n simboliese verwelkoming tot die Ben Viljoen-familie.
Vroeër vanjaar het hul tydens die Sonsopkomsdiens die begin van hul hoërskoolreis gevier, ’n reis gegrond in lig, geloof en hoop. Met die lui van die klok is hierdie reis voortgesit.
Die klok se klank is ’n aankondiging van groei, verantwoordelikheid en die deelvorm van iets groter. Dit bevestig dat elke graad agt leerder nou volwaardig deel is van ons skoolgemeenskap.

Tesame met die Uiltjies het die nuwe personeel wat gedurende 2026 by Hoërskool Ben Viljoen aangesluit het, ook die voorreg gehad om die klok te lui. Só word nie net hul leerders nie, maar ook die opvoeders amptelik deel van ’n span wat saam bou aan ’n toekoms van uitnemendheid.
Tydens die aandfunksie is die betekenis van die skoolkleure en -wapen ook beklemtoon. Die groen kleur van die skoolbaadjie weerspieël die vrugbaarheid van die Loskopvallei en simboliseer groei en nuwe lewe. Die wit agtergrond van die wapen staan vir reinheid van geloof, terwyl die goue skild die vreugde van leer en die waarde van harde werk verteenwoordig. Die vlerke moedig elkeen aan om hoog te mik en bo uitdagings uit te styg, die koringare simboliseer ywer en voorsiening, en die Loskopdam-klep herinner elkeen aan krag, veerkragtigheid en deursettingsvermoë.
Die leuse, “Ons Werk – Ons Eer,” bly die fondasie waarop elke leerder se karakter gebou word.




