Observer Daller

Slaggat-geteisterde pad kry uiteindelik aandag

Padwerke het begin op die Vaalfonteinpad, tussen Groblersdal en Marble Hall, begin ná klagtes oor slaggate en toenemende voertuigskade.

Motoriste wat die Vaalfonteinpad (R25) tussen Groblersdal en die T-aansluiting by die N11 na Marble Hall gebruik, word gemaan om versigtig te wees weens padwerke wat tans aan die gang is.

Volgens Derrick Maidment van 24 Seven Logistics het konstruksie reeds Sondag, 15 Maart, begin ná volgehoue pogings om aandag op die toestand van die pad te vestig.

“Ons as 24 Seven Logistics het uitgereik na RAL (Limpopo Padagentskap) en die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur oor die hoeveelheid slaggate op die Vaalfonteinpad. Daar is hopeloos te veel ongelukke op hierdie pad en vreeslike skade word aan voertuie aangerig. Genoeg is genoeg – hierdie pad het dringend aandag nodig,” het Maidment gesê.

Hy het bygevoeg dat hy sowat ’n week gelede saam met verteenwoordigers van die departement en RAL ’n inspeksie op die pad gedoen het. Minder as ’n week later het die kontrakteur begin werk.

A road construction scene with trucks and safety markers on a rural road, flanked by green fields and a mountain backdrop under an overcast sky.
Padwerke op die Vaalfonteinpad tussen Groblersdal en Marble Hall het reeds Sondag begin.

Volgens Maidment behels die projek onder meer die uitsny en herstel van slaggate, die verwydering van die boonste teerlaag, herstel van padskouers en krake, asook die aanbring van ’n nuwe teerlaag. Slegs dele van die pad sal opgeknap word, aangesien daar dele is wat baie goed lyk. Die projek strek vanaf die T-aansluiting op die R25 tot by die aansluiting met die N11 na Marble Hall.

Die kontrakteur hoop om die werk binne twee weke te voltooi.

Motoriste word intussen versoek om ekstra versigtig te wees. “Daar sal dele van die pad gesluit wees en stop-en-ry punte sal ingestel word. Ry asseblief stadig, aangesien werkers op die pad besig sal wees,” het Maidment gesê.

Wykraadslid Willie Oosthuizen het bevestig dat hy talle klagtes van die publiek oor die toestand van die pad ontvang het en die kwessie herhaaldelik aangemeld het.

“Ek het verlede week Donderdag weer die Elias Motsoaledi Plaaslike Munisipaliteit se infrastruktuur-afdeling gekontak om met RAL in verbinding te tree sodat daar dringend aan die pad aandag gegee kan word,” het hy gesê.

• Die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur se mediaskakelkantoor is genader vir kommentaar en verdere besonderhede, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie.

A road worker in an orange suit holds a stop sign on a rural road with caution barriers. Cloudy sky and distant hills create a calm, overcast setting.
Daar word beoog dat die padwerke binne twee weke voltooi sal wees.

Lees ook: Observer Daller se kantoor sluit: Koerant bly sterk voortbestaan

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button