Gromar geniet geskiedkundige avontuur by Majuba
Gromar Landbou Akademie se Majuba-besoek het leerlinge met geskiedenis, spanbou en onvergeetlike ervarings verryk.
Leerlinge van Gromar Landbou Akademie het Vrydag vroeg koers gekies na die ikoniese Majuba-berg, net buite Volksrust, vir hul jaarlikse besoek aan dié historiese terrein – ’n hoogtepunt op die skool se kalender.
Met groot geesdrif het die leerlinge die uitdagende klim aangepak. Hoewel die tog taai was, het die asemrowende uitsig vanaf die kruin elke tree beloon. Vir baie was dit ’n besondere oomblik van trots om saam as groep bo uit te kom.
Die dag se verrigtinge is verder opgehelder deur ’n reeks stalletjies en aktiwiteite wat vir ’n feestelike atmosfeer gesorg het. Van jukskei en skyfskiet tot tradisionele boeresport het leerlinge met entoesiasme deelgeneem.
Die jonger leerlinge het hul ritme gevind tydens Cantillie, terwyl die senior leerlinge later hul stemme saamgesnoer het tydens Cantus.
Teen die aand se kant het die hoërskoolleerlinge om die kampvuur saamgesit, waar sang en lag tot laat in die nag oor die terrein weerklink het.
Volgens Tianet de Jager, hoofdogter vir 2026, was die uitstappie veel meer as net ’n dag vol aktiwiteite. “Dit was ’n ware belewenis, iets wat ons saam kon ervaar en wat ons nog lank sal bybly.”
Annerikea Paissopoulus het dit eenvoudig maar treffend opgesom: “Dit was ’n fees! Van die bergklim tot die kampvuur, elke oomblik was spesiaal.”
Hoewel die leerlinge moeg teruggekeer het ná ’n vol program, was dit met dankbaarheid en hernude energie.
Die jaarlikse Majuba-besoek bly ’n kosbare tradisie wat kameraadskap, kultuur en skoolgees op unieke wyse versterk.


