Waarskuwing: Verkeerslig werk nie by Groblersdal Landdroshof
Padgebruikers in Groblersdal word gemaan om die kruising as ’n vierrigtingstop te hanteer.
Motoriste in Groblersdal word gemaan om uiters versigtig te wees omdat die verkeerslig op die hoek van Van Riebeeckstraat en Tauteslaan, naby die Groblersdal Landdroshof, buite werking is.
Die foutiewe verkeerslig veroorsaak tans ontwrigting met die vloei van verkeer, met die situasie wat veral gedurende spitsure vererger. Hierdie piektye sluit soggens tussen 06:30 en 08:00, middag tussen 12:00 en 14:00, asook weer in die namiddag tussen 15:00 en 18:00 in.
Padgebruikers word herinner dat ’n nie-werkende verkeerslig as ’n vierrigtingstop hanteer moet word. Daar is egter kommer dat nie alle motoriste hierdie reël nakom nie, wat die risiko van ongelukke aansienlik verhoog.
Inwoners en gereelde pendelaars word aangeraai om ekstra waaksaam te wees, spoed te verminder en ander voertuie se bewegings fyn dop te hou wanneer hulle die kruising nader.
• Die publiek word verder aangemoedig om enige ongelukke, mis, groot slaggate of ander obstruksies wat verkeer kan beïnvloed, aan te meld. Skakel of stuur ’n WhatsApp (met ’n foto of video indien moontlik) na 082 575 7016 om die Observer Daller in kennis te stel.
