Drie gearresteer ná Groblersdal-jaagtog
Drie mense, onder wie ’n SAPD-konstabel, is ná ’n polisiejaagtog in Groblersdal in hegtenis geneem.
Drie verdagtes, onder wie ’n polisiekonstabel van Mpumalanga, is Maandagaand tydens ’n intelligensiegedrewe operasie by die Groblersdal-taxihalte in hegtenis geneem vir beweerde handel in dagga.
Volgens kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder, het lede van die Sekhukhune-snelwegpatrollie inligting ontvang oor twee voertuie wat vermoedelik dagga onderweg na Musina vervoer het.
Die voertuie, ’n rooi Audi A3-sedan en ’n swart Audi A3, is omstreeks 18:00 in Groblersdal opgemerk.
Polisiebeamptes het die voertuie probeer aftrek, maar die bestuurders het glo versuim om gehoor te gee, waarna ’n jaagtog gevolg het.
SAPD-lede het daarin geslaag om beide voertuie tot stilstand te bring en te deursoek. Tydens die soektog is 17 saamgeperste bale dagga in die voertuie ontdek. “Die dagga sal nog geweeg word as deel van die voortgesette ondersoek,” het kol. Ledwaba gesê.

Die drie verdagtes sluit twee mans, onderskeidelik 33 en 36 jaar oud, asook ’n 23-jarige vrou in. Een van die gearresteerde mans is geïdentifiseer as ’n polisiekonstabel verbonde aan Carolina SAPD in Mpumalanga.
Die saakdossier is intussen na die Limpopo Provinsiale Anti-Korrupsie-eenheid oorgeplaas vir verdere ondersoek.
Die Limpopo provinsiale polisiekommissaris, lt. genl. Thembi Hadebe, het die arrestasies verwelkom en beklemtoon dat die polisie daartoe verbind bly om dwelmhandel en misdaad sonder vrees of guns te bekamp.
Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die Groblersdal Landdroshof verskyn.
