Kreatiwiteit blom by CVO Marmer se boekedagviering
CVO Marmer se leerders het Wêreldboekedag met kreatiewe idiome en kleurvolle kostuums gevier.
CVO Marmer het op Wêreldboekedag behoorlik gegons toe leerders hul kreatiwiteit ten toon gestel het met ’n unieke tema: idiome.

In plaas daarvan om soos bekende boekkarakters aan te trek, is leerders uitgedaag om hulself as Afrikaanse idiome uit te beeld – en die resultate was niks minder nie as kleurvol, oorspronklik en soms sommer skreeusnaaks.

Onderwysers en medeleerders het die kreatiewe uitbeeldings geniet en dit het gesorg vir ’n ligte, vrolike atmosfeer ter viering van lees en taal. Die aktiwiteit het nie net pret gebring nie, maar ook die betekenis van idiome op ’n speelse manier beklemtoon.

CVO Marmer se Wêreldboekedag-viering was dus nie net ’n huldeblyk aan boeke nie, maar ook aan die rykheid en humor van die Afrikaanse taal.
