Gideons bring hoopboodskap na Ben Viljoen
Hoërskool Ben Viljoen sê geloof, waardes en karakter bly belangrik in leerders se ontwikkeling.
Die Gideons International het Maandag ’n spesiale besoek aan Hoërskool Ben Viljoen gebring waar elke graad 8-leerder met ’n sakpas-Bybel vereer is.
Die oorhandiging van die Bybels was ’n betekenisvolle oomblik vir die skool se nuwe Dallers. Volgens die skool simboliseer die geskenk geloof, hoop en leiding wat leerders hopelik nog vir baie jare op hulle lewenspad sal vergesel.
In ’n wêreld vol uitdagings en belangrike keuses, hoop die skool dat die Bybels vir elke leerder ’n bron van wysheid, rigting en hoop sal wees. Die boodskap aan die leerders was dat elkeen se “lewenslegkaart” stukkie vir stukkie in plek kan val deur geloof, waardes en deursettingsvermoë.
Hoërskool Ben Viljoen het beklemtoon dat die skool nie net fokus op akademiese prestasie nie, maar ook daarop ingestel is om karakter, waardes en geloof by jongmense te ontwikkel.
Die skool het sy opregte dank en waardering teenoor die Gideons International uitgespreek vir die betekenisvolle bydrae tot die leerders se lewens.
“Mag elke Bybel met oop harte ontvang word en ’n ligdraer wees op elke jongmens se pad vorentoe,” het die skool gesê.
