KYK: Marble Hall-inwoners vang en hervestig krokodil
Arthur en Lavelle Roden het ’n krokodil by Leeuwfontein gevang en hervestig by Schuinsdraai Natuurreservaat.
Beeldmateriaal wys hoe twee inwoners van Marble Hall Saterdagoggend ’n Nylkrokodil naby Leeuwfontein vang.
Volgens Arthur Roden, ’n inwoner van Marble Hall, het lede van die Marble Hall SAPD hom omstreeks 00:45 op 16 Mei gekontak nadat beamptes glo ’n krokodil tydens ’n patrollie oor die pad sien beweeg het. Die dier is later in ’n veld naby die nuwe winkelsentrum opgespoor wat ook naby die rioolsuiweringswerke in Leeuwfontein geleë is.
Arthur en sy dogter, Lavelle, het kort ná 01:00 vertrek om die reptiel te vang. Die krokodil, wat na raming sowat twee meter lank was, is veilig gevang en later by die Schuinsdraai Natuurreservaat vrygelaat.
Op die video kan daar gesien word hoe Arthur en Lavelle die krokodil vang en vasbind om veilig te vervoer vir vrylating.
• Die voorval het kommer onder inwoners laat ontstaan, veral nadat nóg ’n krokodil Maandag, 18 Mei, naby die Leeuwfontein Crossing en die plaaslike rioolwerke opgemerk is. Gemeenskapslede vermoed dat opgraderingswerk by die Leeuwfontein-rioolsuiweringsaanleg die diere moontlik uit hul natuurlike habitat versteur het.
• Arthur het inwoners versoek om enige verdere krokodil-waarnemings onmiddellik aan hom te rapporteer sodat die diere veilig hervestig kan word. Hy kan gekontak word by 082 327 8482.