Observer Daller

Loskopvallei-geskiedenis: Die ontstaan van Loskopdam

Ekonomiese krisis, droogte en harde arbeid het gelei tot die bou van ’n dam wat steeds die Loskopvallei voed.

Meer as 90 jaar nadat die eerste grond verskuif is, is Loskopdam steeds een van Suid-Afrika se grootste en bekendste damme. Wat vandag ’n belangrike waterbron en gewilde ontspanningsbestemming is, het sy ontstaan te danke aan ’n tydperk van ekonomiese swaarkry, droogte en die vasberadenheid van duisende werkers.

’n Skema wat nuwe geleenthede geskep het

Van die eerste nedersetters op die Loskop-besproeiingskema was 82 boere wat vanaf die Pongola-nedersetting na die gebied verskuif is. In die vroeë jare moes inwoners hul inkopies in Middelburg of Pretoria gaan doen.

Handelaars het egter gou die potensiaal van die streek raakgesien en klein winkeltjies het begin ontstaan. Hierdie ontwikkeling sou uiteindelik die grondslag lê vir die groei van die Loskopvallei soos ons dit vandag ken.

Depressie en droogte tref Suid-Afrika

Die wêreldwye ekonomiese depressie wat ná die ineenstorting van Wall Street in 1929 gevolg het, het Suid-Afrika swaar getref. Tussen 1930 en 1933 het die land een van die ergste ekonomiese insinkings in sy geskiedenis beleef.

Asof dit nie genoeg was nie, is die land gedurende 1932 en 1933 deur ’n vernietigende droogte geteister – die ergste wat baie mense destyds kon onthou. Veral boere het groot verliese gely.

Een van die regeringsprojekte wat ingestel is om werk te skep en die landbou te ondersteun, was die bou van Loskopdam op die plaas Loskop langs die Olifantsrivier.

Sepia-toned image of a large, sloped concrete dam surrounded by hills and sparse vegetation. The setting appears historic, evoking a nostalgic tone.
Die oorspronklike wal van Loskopdam wat in 1938 voltooi is. FOTO: The Water Wheel

Die bou van ’n reus

Bouwerk aan Loskopdam op die plase Loskop en Vergelegen, waar die Olifantsrivier deur ’n nou poort vloei, het in 1934 begin. Soos met baie staatsprojekte van die tyd, is slegs wit arbeid gebruik.

Aanvanklik is net getroude mans aangestel. Hulle het vyf sjielings per dag verdien en gratis verblyf, kos en mediese sorg ontvang. Teen Maart 1935 was daar reeds 460 werkers op die terrein.

Arbeidstekorte het egter gou ontstaan en die Departement van Arbeid het later toestemming gegee dat ongetroude mans ook aangestel mag word.

Na raming het sowat 7 000 mans uiteindelik aan die dam gewerk. Die werk is onder uiters moeilike omstandighede verrig. Pikke en grawe was die belangrikste gereedskap, dinamietgate is met die hand geboor en elke klip wat in die damwal gebruik is, is met die hand uitgegrawe en vervoer. Selfs die sement is met die hand gemeng en in kruiwaens aangery.

Terugslag deur ongekende reën

In 1935 het buitengewone swaar reën groot skade veroorsaak toe die massiewe fondamente van die dam uitgespoel is.

Die terugslag het beteken dat groot dele van die werk van voor af begin moes word, wat die projek aansienlik vertraag het.

Werkers het in voorafvervaardigde woonkwartiere gewoon waar 20 mans ’n gebou gedeel het. Enkelwerkers het 36 sent per dag verdien, terwyl getroude mans 50 sent per dag ontvang het. Ten spyte van die moeilike omstandighede was hulle dikwels beter daaraan toe as die talle werklose Suid-Afrikaners van die tyd.

Die dam loop oor

Teen die einde van 1937 was Loskopdam feitlik voltooi. Goeie reën het gedurende Desember 1937 en Januarie 1938 geval en die dam het vinnig begin volloop.

In Januarie 1938 het Loskopdam vir die eerste keer oorgeloop – nog voordat alle afrondingswerk voltooi is.

Met sy voltooiing in 1938 kon die dam ongeveer 178 miljoen kubieke meter water berg.

Sepia-toned photo of a large dam set against rolling hills. Lush foliage and a gently flowing river are in the foreground, evoking a tranquil atmosphere.
’n Historiese stroomaf-aangesig van die oorspronklike damwal van Loskopdam voor die damwal verhoog is. FOTO: The Water Wheel

Ingenieurswese wat geskiedenis gemaak het

Loskopdam bestaan uit ’n massabeton-swaartekragwal met ’n ogee-kruin oorloop.

Die oorspronklike damwal was 45 meter hoog en het internasionaal aandag getrek omdat dit die eerste dam was waar die sogenaamde Roberts Splitter-stelsel toegepas is.

Die stelsel, ontwikkel deur lt.kol. DF Roberts, was ontwerp om die geweldige energie van oorstromende water te verminder. Roberts was die inwonende ingenieur by die Departement van Besproeiing se eerste hidrouliese laboratorium naby die dam.

Ná die suksesvolle toepassing by Loskopdam is dieselfde tegnologie ook by ander groot damme in Suid-Afrika (Nagle- en Gariepdam) en selfs in die buiteland (Victoriadam in Sri Lanka) gebruik.

Die kanaalstelsel bring lewe na die vallei

Bouwerk aan die uitgebreide kanaalstelsel het in Junie 1935 begin.

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die werk vir ’n tydperk onderbreek, maar die stelsel is uiteindelik in 1948 voltooi.

Die kanale strek oor sowat 480 km tot by die Elandsrivier. Vandag voorsien dit steeds boere in die Groblersdal- en Marble Hall-distrik van noodsaaklike besproeiingswater.

Sepia-toned image of a dam with water cascading down a rocky slope. Buildings are nestled in a hilly landscape, conveying a historical, industrial feel.
’n Historiese foto van die hoofkanaal wat uit Loskopdam vloei. FOTO: The Water Wheel

Die ontstaan van Groblersdal

Die Loskop-besproeiingskema het ook ’n belangrike rol gespeel in die ontstaan van Groblersdal.

Willem Grobler se plaas Klipbank was die middelpunt van die Herefordskema en hy het reeds vroeg die droom gekoester om ’n dorp in die gebied te vestig.

Hy het grond beskikbaar gestel en onder meer ’n geboutjie opgerig wat reeds vanaf 1930 as skool gebruik is.

Hierdie visie is uiteindelik verwesenlik toe Groblersdal op 9 Maart 1938 amptelik as dorp geproklameer is.

’n Erfenis wat vandag voortleef

Loskopdam bly vandag een van die belangrikste bakens in die Loskopvallei se geskiedenis. Die dam het nie net werk geskep tydens een van Suid-Afrika se moeilikste ekonomiese tye nie, maar het ook die ontwikkeling van landbou, nedersettings en uiteindelik dorpe soos Groblersdal moontlik gemaak.

Die damwal is later gedurende 1974 en 1980 met nege meter verhoog. Die geskiedenis van dié uitbreidingsprojek sal in ’n toekomstige artikel behandel word.

Help ons om die Loskopvallei se geskiedenis te bewaar

Baie van die Loskopvallei se geskiedenis het oor die jare verlore gegaan. Die Observer Daller beoog om die verhale van die Loskopvallei te versamel en te bewaar sodat toekomstige geslagte steeds kennis kan neem van die mense, uitdagings en gebeurtenisse wat hierdie streek gevorm het.

Indien jy oor ou foto’s, dokumente, familieverhale, interessante staaltjies of enige geskiedkundige inligting oor Groblersdal, Marble Hall, die Loskopvallei of omliggende gebiede beskik, word jy aangemoedig om dit met die Observer Daller te deel.

Persone wat geskiedenis, verhale of staaltjies van ons dorp se geskiedenis wil deel, kan die Observer Daller kontak by news@daller.co.za of 082 575 7016. Alle bydraes, groot of klein, kan waardevolle stukke van die Loskopvallei se geskiedenis help bewaar vir toekomstige geslagte.

Lees ook: Loskopvallei-geskiedenis: Klein besproeiingskemas het weg vir Loskopdam gebaan

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Janine Saayman

Janine has been working as a journalist/photographer since 2014 at the Daller in Groblersdal. She was awarded the O.H. Frewin Upcoming Journalist of the Year in her first year as a journalist. Janine has a passion for photography, writing, being creative and doing things to the best of her ability.
Back to top button