Chaka se hand in NWU Arende se agttal gesien
Tukkies kan steeds bo aan punteleer eindig al het hy in Varsityeker verloor
Enige pak voorspelers wat deur Chaka Willemse afgerig word gaan rof en onbeskof wees.
Tuks het dit gisteraand uitgevind toe die Noordwes Universiteit se Arende hulle met 30-22 opgefrommel het.
Tuks het swak begin
Die oud Puma kaptein brei die Pukke se pak voorspelers en die ek-vat-geen-nonsens-nie-Chaka se hand was duidelik te sien in die Potchefstromers se agttal.
Tuks het swak begin en was sommer gou 14-0 agter en moes die heeltyd probeer inhaal.
Die Pretorianers het duidelik soos hulle ouboete, die Bulle, grootverhoogkoors gehad.
Geen ritme
Daar was heeltemal te veel ongedwonge foute en strafskoppe wat gemaak het dat daar geen ritme was nie.
Miskien was die nederlaag net op die regte tyd, want Dewey Swartbooi en sy afrigtingspan weet nou waar lê die span se swakplekke.
Een van die grootste leemtes was samespel.
Punteleer
Tukkies het nog ’n goeie kans om bo aan die punteleer te eindig, want hy is net een punt agter die NWU Arende op 21 teenoor die Potchefstromers se 22.
Tuks behoort Maandag op sy tuisveld volpunte te behaal teen die sukkelende Emeris wat gisteraand met 26-24 teen CUT in Durban gewen het.
NWU reis na Stellenbosch om ’n Matie span te pak wat sy vorm herwin het en met 34-7 baas was teen Ikeys.
Maties pak die NWU Arende
Shimlas sukkel nadat hy verlede week ook verloor het. Die Bloemfonteiners is met 29-17 deur die Universiteit Johannesburg geklop.
Maties het tans 16 punte na vyf wedstryde, UJ ook 16, Ikeys 15, Shimlas 11, Emeris 6 en CUT 4.
Maandag speel Emeris weg teen Tuks, Maties pak die NWU Arende in die Danie Craven Stadion, Shimlas speel tuis teen Ikeys, met CUT wat gasheer is vir UJ.
- Christiaan Vlok en Ben Janse van Vuuren, oud Middelburgers, het albei gisteraand vir Tuks uitgedraf.
