Vlaag aanvalle, moorde in Bronkhorspruit: Groenfontein boer nuutste slagoffer
Drie mense is dood in vier afsonderlike aanvalle in die Bronkhorstspruit omgewing sedert Julie.
Burckhard Neumann (65), se dood is die mees onlangse moord in vlaag van aanvalle en -moorde op bejaardes in die Bronkhorstspruitomgewing. Daar is intussen berig dat die polisie iemand vir die moord gearresteer het.
Neumann (ook bekend as Bokkie), wat geboer het in die Groenfontein-omgewing, is op 25 Augustus omstreeks 18:15 in ’n plas boed op sy kleinhoewe gevind. Sy keel was afgesny en hy is vyf keer met ’n mes in die rug gesteek.
Adjudant offisier Johan van Dyk, woordvoerder van die Tshwane polisie het in ’n mediaverklaring gesê die polisie is op 25 Augustus van die aanval verwittig maar dat dit blyk of hy reeds op 24 Augustus vermoor is.
ֹn Nadoodse ondersoek sal hul vermoede moet bevestig.
Liggaam gevind na Neumann nie sy foon antwoord
Streeknuus (die gemeenskapskoerant in Bronkhorstspruit) berig dat ‘n onbekende persoon glo gaan ondersoek instel het nadat hy nie vir Neumann op sy selfoon kon bereik nie.
Hy het toe op die gru-toneel op die kleinhoewe aangekom en noodienste en die polisie ontbied.
Daar was ook items ter waarde van sowat R300 000, wat insluit ’n skootrekenaar, selfoon en ’n Toyota bakkie, gesteel. Die bakkie is later verlate op die Arbor-pad gevind.
Pretoria Rekord het berig dat ‘n persoon, wat op dieselfde perseel gebly het waar Neumann dood is, intussen vir sy moord gearresteer is.
Vlaag aanvalle, moorde teister omgewing
Neumann se dood is die mees onlangse moord in vlaag van aanvalle en -moorde op bejaardes in die Bronkhorstspruitomgewing.
- Toy Olivier (78) en sy vrou Ansie was ook die slagoffers van ’n aanval by hul huis op Cullinan op 30 Junie.
Tydens dié aanval was Toy ernstig met ’n panga en hamer aangerand terwyl sy vrou ongedeerd van die aanval afgekom het.
Toy, oud-koster van die AGS Kerk op Rayton, het volgens inligting verskeie operasies ondergaan om die skade aan sy gesig en skedel te herstel.
Hy was egter nooit uit die hospitaal ontslaan nie en het op 6 Augustus gesterf.
- In nog ’n voorval was Grietha Opperman (76) op 4 Julie omstreeks 20:15 in die badkamer van haar en haar man Hendrik se huis op ’n plaas in die Witpoort omgewing oorval.
’n Aanvaller het haar van agter met ’n hamer geslaan, op die grond neergegooi en herhaaldelik geskop en oor die rug geslaan.
Hendrik was in die kantoor van die melkstal sowat 70m vanaf die huis toe Grietha aangeval is. Die Oppermans se Blumenweiler hond, Simson, het alarm gemaak waarna Hendrik hom na die huis gehaas het.
“Tussen vloere, mure en selfs plafonne vol bloed het ek my dierbare vrou Grietha gevind, bloed het van oraloor uit haar gestroom,” het Hendrik gesê.
Hendrik het die bure in kennis gestel waarna die ambulans en polisie opgedaag het. Grietha was in die hospitaal behandel en hoewel steeds getraumatiseerd, sterk sy tuis aan.
Een verdagte is in hegtenis geneem na die aanval op Grietha.
- In nóg ’n aanval was Dirk Kritzinger (81) op 21 Julie in ’n plas bloed in sy huis op kleinhoewe in Louwsbaken, Cullinan, gevind.
Dirk is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Sy vrou Sarie (77) was aangerand en is per ambulans na ’n hospitaal vervoer waar sy volgens inligting steeds herstel.
Die Cullinan polisie het een verdagte in die moord op Dirk en die aanranding van sy vrou, in hegtenis geneem.
Van Dyk het die publiek versoek om die Bronkhortspruit polisie te kontak sou hulle oor enige inligting beskik wat tot die inhegtenisneming van die aanvallers kan lei.
Read original story on www.citizen.co.za