Pretoria skietery: Geliefde oupa dood, motorfietsklub-president kritiek
Die voormalige president van die Sam Original Mcc motorfietsklub is gister in Mountain View doodgeskiet, terwyl die huidige president kritiek in die hospitaal opgeneem is.
Twee mense is geskiet en ‘n verdagte is op die toneel gearresteer na ‘n skietvoorval by ‘n besigheid in Mountain View gister. Jannie Venter, die voormalige president van die Sam Original Mcc motorfietsklub wat as ‘n geliefde oupa, pa en eggenoot beskryf is, is op die toneel dood.
Janneman Vermaak, die huidige president van die klub, is ernstig gewond en in ’n kritieke toestand na die hospitaal vervoer. Vermaak, ’n pa van twee, veg steeds vir sy lewe.
Venter sou vandag sy verjaarsdag gevier hetVolgens Xander Loubser, woordvoerder van Best Care Ambulans Dienste, het die skietery net na 14:45 plaasgevind.
“Met ons aankoms het ons noodspan een persoon dood verklaar, terwyl ’n ander in ’n kritieke toestand aangetref is.”
Die verdagte was steeds op die toneel en is deur Brinant Security gearresteer. Loubser het hul vinnige en professionele optrede geprys.
“Hulle het verseker dat die situasie nie verder eskaleer nie en die veiligheid van almal op die toneel beskerm.”
Best Care Ambulans Dienste en Netcare 911 het saam gewerk om Vermaak te stabiliseer.
Hy is daarna per Netcare911-helikopter na ’n gespesialiseerde trauma-eenheid geneem.
“Ons innige meegevoel gaan uit aan die familie en vriende van die oorledene. Ons dra ook ons gebede oor aan Janneman Vermaak en sy geliefdes, met die hoop op ’n volledige en vinnige herstel,” het Loubser gesê.
Sedert die voorval het medelye van regoor die gemeenskap ingestroom.
Die Sam Original Mcc motorfietsklub het ’n emosionele huldeblyk op hul Facebook-blad gedeel:
“Rus sag by Jesus se voete, ou prez Jannie. Jy het diep spore in ons harte getrap en los ons met ’n groot leemte. Maak nie saak hoelank jy iemand geken het nie, jy het hulle gou deelgemaak van jou familie. As oupa, pappa, lewensmaat, broer en vriend gaan jou plekkie verewig leeg wees en ons gaan jou baie mis. Jy sal altyd in ons harte wees.”
Verdere omstandighede rondom die skietvoorval is nie tans bekend nie.
Read original story on www.citizen.co.za