Dogtertjie (5) sterf in ongeluk: Pa getuig in Middelburg-hof

‘n Middelburg-pa het getuig hoe sy dogtertjie uit haar karstoeltjie gesny moes word op die ongelukstoneel.

’n Pa het hierdie week in die Middelburg Landdroshof getuig oor die gebeure tydens ‘n ongeluk waarin sy dogtertjie gesterf het.

Die Middelburg Observer berig dat die vyfjarige Amé Jansen van Rensburg op 26 September 2021 gesterf het nadat die bakkie waarin sy en haar gesin gery het op die R555 (ou Middelburg/Witbankpad) gerol het.

Amé, wat agter haar ma, Nadia, in haar karstoeltjie gesit het, is op die toneel oorlede.

Joseph Hebron Maponya, wat daarvan beskuldig word dat hy die ongeluk veroorsaak het, het vroeër hierdie week onskuldig gepleit. Die verhoor het Woensdag begin.

Joseph Hebron Maponya. Foto: Verskaf

Amé se pa Phillip het getuig dat hy die bakkie op die noodlottige dag bestuur het.

Saam met hom in die voertuig was sy vrou, Nadia, en hul twee kinders Amé en Flippie (op daardie stadium amper drie jaar oud).

Volgens hom het hy in Middelburg se rigting gery, toe die rooi voertuig skielik in hul baan ingeswenk het. Om ‘n trompop botsing te vermy, het hy uitgeswaai, waarna die bakkie die pad verlaat en omgeslaan het.

Die ongelukstoneel op die R555 waar Amé Jansen van Rensburg gesterf het. Foto: Daleen Naude/Middelburg Observer

Tydens kruisondervraging het die verdediging gevra of Amé in haar karstoeltjie was.

“Die paramedici moes die veiligheidsgordel lossny om haar uit te haal,” het Phillip getuig.

Daar is ses getuies, waaronder Nadia, wat nog moet getuig. Die saak is uitgestel tot 29 Oktober.

Wico Swanepoel (van AfriForum se privaatvervolgingseenheid) het die Jansen van Rensburg egpaar weer by die hof ondersteun.

Phillip en Nadia Jansen van Rensburg en Wico Swanepoel. Foto: Daleen Naude

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button