11 in Heilbron-hof ná wrede aanval wat plaaswerker sy lewe kos
Die beskuldigdes van die moord op ‘n plaaswerker en verkragting van sy 34-jarige vrou het gister vir die eerste keer in die hof verskyn.
Elf van die 13 verdagtes wat Saterdag binne ure ná ‘n wrede plaasaanval in die Heilbron-distrik in die Vrystaat gearresteer is, het gisteroggend in die Heilbronse Landdroshof verskyn vir onder meer die moord op ‘n plaaswerker en verkragting van sy 34-jarige vrou.
Volgens Parys Gazette is die vrou ook tydens die aanval met ‘n mes gesteek.
Polisiewoordvoerder Kaptein Loraine Earle sê die beskuldigdes wat tussen die ouderdom van 20 en 38 is, bly in aanhouding totdat hulle volgende week weer voor die hof sal verskyn vir ‘n formele borgaansoeke.
Naas die klagte van moord, poging tot moord en verkragting, staar hulle ook klagte van veediefstal en die besit van gesteelde vee en eiendom in die gesig, nadat die polisie met hulle arrestasie beslag gelê het op 22 skape, ’n vuurwapen, ‘n minibus en huishoudelike items, het Earle bevestig.
Dit is op hierdie stadium onduidelik of die ander twee persone wat in hegtenis geneem is, aangekla is en op ‘n latere stadium in die hof sal verskyn.
Vinnige en gekoördineerde optrede lei tot arrestasie
Die waarnemende kommissaris van die SAPD in die Vrystaat, Generaal-majoor Solly Lesia, het Saterdag die vinnige en gekoördineerde optrede van die polisie, die boeregemeenskap, private sekuriteitsondernemings asook alle betrokke rolspelers geloof wat gelei het tot die arrestasie, bedank.
“Hierdie vinnige reaksie en suksesvolle inhegtenisneming van die verdagtes toon wat bereik kan word wanneer die polisie en gemeenskap saamwerk. Ons sal voortgaan om beslissend op te tree teen enige vorm van gewelddadige misdaad,” het Lesia gesê.
Die plaasaanval in die Heilbron-distrik volg minder as drie weke ná ‘n 70-jarige boer, sy 68-jarige vrou en hul 34-jarige dogter op 12 Oktober op hulle plaas langs die R500 (Parys/Fochville)-pad in die Buffelshoek-gebied aangeval en beroof is.
Malandela George Mbela (48), ‘n voormalige werknemer, het homself ‘n dag ná die aanval by die Parys-polisiestasie gaan oorgee waar hy deur lede van die Buffelshoek-SAPD in hegtenis geneem is.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za