Tweede broer oorlede na skietery by Chubby Chick in Potchefstroom
Deon Fourie is tydens ‘n skietvoorval in Potchefstroom gewond terwyl sy broer, Johnathan, dood verklaar is op die toneel.
Deon Fourie, wat gewond is in ‘n skietvoorval by Chubby Chick in Potchefstroom in November, is vanoggend oorlede. Sy broer Johnathan is noodlottig gewond tydens die voorval.
Potch Old Boys het vanmiddag op hulle Facebook-blad bevestig dat Deon oorlede is, berig Potchefstroom Herald.
“Ek wil graag die nuus van Deon Fouries se afsterwe om 10:45 deel. Ek is net so verpletter soos ek weet julle almal is – julle gedagtes, gebede en woorde van vertroosting aan die Fourie-familie word geweldig waardeer. Aan die familie, ons opregte meegevoel met die afsterwe van Deon so kort na Johnathan – julle hartseer is ons hartseer.”
Medelye het ooral oor sosiale media vir Deon se familie ingestroom.
Kolonel Adelé Myburg, polisiewoordvoerder, het bevestig Deon is vanoggend in die hospitaal oorlede.
“Die aanklag van poging tot moord het nou na moord verander. So dit is ‘n dubbel moord wat tans ondersoek word. Die verdagte is steeds gehospitaliseer.”
Die 73-jarige verdagte, wat tydens die voorval gewond is toe hy na bewering deur ‘n sekuriteitswag buite aksie gestel is, is steeds in die hospitaal.
Dit is nie duidelik wat tot die skietvoorval gelei het nie. Chubby Chick het met ‘n vorige verklaring gesê dat die verdagte geen verbintenis met die besigheid gehad het nie.
Read original story on www.citizen.co.za