4-jarige sterf ná fratsongeluk in Vanderbijlpark

'n Verkeersknoop het by ’n woning in die Vaaldriehoek ontstaan toe nooddienste en familielede na 'n toneel gehaas het, waar ’n jong seuntjie dood is.

’n Gesin in CW6, Vanderbijlpark is Saterdagmiddag in rou gedompel ná ’n fratsongeluk die lewe van hul vierjarige seuntjie geëis het.

Die seuntjie het na bewering saam met ’n maatjie in die erf gespeel toe ’n swaar staaltafel omgeval het, berig Vaalweekblad. Die tafel het die seuntjie noodlottig teen die nek getref, en hy kon weens die erns van sy beserings nie gered word nie.

Kort ná die voorval was daar ’n groot ophoping van verkeer voor die woning namate nooddienste en familie na die toneel gehaas het. ER24, Netcare 911 en die SAPD was almal daar om bystand te verleen.

Gemeenskap treur saam met familie

In ’n Facebook-plasing het Frontline of Hope Ministry gesê dat die seuntjie veels te vroeg sy lewe verloor het.

“Vanaand is daar ’n kamer wat stil is. ’n Bed waarin daar nie geslaap gaan word nie. ’n Familie wat probeer om sin te maak van ’n verlies wat geen ouer ooit behoort te ervaar nie,” sê Frontline of Hope in die plasing.

Hulle het ER24 bedank wat veel meer vir die familie gedoen het as wat van hulle verwag is, en ook trauma-ondersteuning gereël het.

Geen antwoorde in donker tye

Frontline of Hope skryf verder dat daar geen antwoorde in sulke tye is nie: “Wat ons het, is teenwoordigheid – daag op, hou spasie, en loop saam met families in hul donkerste uur.”

Saterdag se fratsongeluk volg op ’n soortgelyke voorval in Middelburg, Mpumalanga, gedurende Maart.

Mynhardt Moolman (9) is op 21 Maart weens ’n fratsongeluk by sy pa se werkplek opslag dood nadat ’n swaar voorwerp op hom geval het.

Mynhardt se ouers het aan die Middelburg Observer vertel dat sy ouer boetie, Christiaan (11), reg langs hom gestaan het toe die ongeluk gebeur het.

Hy is beskryf as ’n saggeaarde, vrolike en liefdevolle kind wat altyd almal wat seergekry het, gehelp het.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button