News

Fratsongeluk eis 4-jarige se lewe in CW6

Fratsongelukke waarby jong kinders betrokke is, is van die mees hartverskeurende voorvalle en verander binne sekondes 'n gesin se lewe.

VANDERBIJLPARK – ’n Gesin in CW6 is Saterdagmiddag in diepe rou gedompel ná ’n fratsongeluk die lewe van hul vierjarige seuntjie geëis het.

Die seuntjie het na bewering saam met ’n maatjie in die erf gespeel toe ’n swaar staaltafel omgeval het. Die tafel het die seuntjie noodlottig teen die nek getref, en hy kon weens die erns van sy beserings nie gered word nie.

Kort ná die voorval was daar ’n groot ophoping van verkeer voor die woning namate nooddienste en familie na die toneel gehaas het. ER24, Netcare 911 en die SAPD was almal daar om bystand te verleen.

“Frontline of Hope Ministry betuig ons opregte dank aan ER24, wat die ekstra myl vir hierdie familie geloop en dadelik trauma-ondersteuning gereël het,” het ’n woordvoerder van Frontline of Hope gesê.

“Hierdie seuntjie het veels te vroeg en veels te skielik sy lewe verloor. Dit is bitter hartseer om te dink dat daar vanaand ’n kamer in daardie huis is wat stil is. ’n Bedjie waarin daar nie meer geslaap sal word nie.

“Dit is ’n gesin wat nou moet probeer sin maak van ’n verlies wat geen ouer ooit behoort te ervaar nie.

“Ons het nie antwoorde vir oomblikke soos hierdie nie. Al wat ons kan bied, is ons teenwoordigheid – om bloot daar te wees, ruimte te skep vir hul hartseer, en om saam met die familie deur hul donkerste ure te loop.

“Hou asseblief hierdie gesin, en almal wat hierdie kind liefgehad het, in julle gebede,” lui die boodskap van Frontline of Hope.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button