Gewelddadige eMalahleni-huisroof: Broers sterf 5 dae ná mekaar

Dirkie Steenkamp het 'n bloedklont opgedoen ná 'n aanval waarin sy jonger broer, Fransie, op die toneel doodgeskiet is.

Francois Steenkamp het gisteroggend sy tweede seun aan die dood afgestaan ná ‘n gewelddadige inbraak by hul familiehuis in Paarlstraat, eMalahleni. Dirkie Steenkamp is in die vroeë oggendure oorlede weens komplikasies van sy skietwonde.

Die uitvoerende hoof van Curro Bankenveld is op 5 September in ‘n huisroof gewond waarin sy broer, Fransie, noodlottig geskiet is by hul huis in Hoëveldpark, berig Witbank Nuus.

Nadat hy gewond is, het Dirkie vroeër die week in ‘n boodskap geskryf ‘Ek bly lief vir hierdie land en my ou Witbank’.

“Ons is platgeslaan,” het Francois gesê. Volgens hom het ’n bloedklont deur Dirkie se long en hart beweeg, waarna hy gister beswyk het.

Francois het vertel dat ADT Sekuriteit hom net ná 22:00 gebel het om te sê die alarm by hul huis in Paarlstraat het afgegaan. Hy en sy vrou, Santa, het van Loskopdam af teruggejaag huis toe, waar hy aan die Loskopdam Classic-visvangkompetisie deelgeneem het.

“Ek het vir Fransie gebel en hy het nie geantwoord nie. Toe ek vir Dirkie bel, het hy net oor die foon geprewel: ‘Pa, Fransie is dood…’”

Francois sê die rowers het toegang tot die erf verkry deur die slot van die hekmotor af te draai. Hulle het die hek oopgestoot en die huis deur die agterdeur binnegegaan. Die indringers het verskeie waardevolle items gesteel, waaronder ’n televisie wat van die muur afgehaal is, asook vuurwapens uit die kluis in die motorhuis.

Dirkie het later aan sy pa vertel dat Fransie gehoor het iemand is in die huis en die paniekknoppie gedruk het. Dit het glo die rowers laat skrik, waarna hulle die vuur op die broers oopgemaak het.

Dirkie is in sy maag en bene geskiet. Fransie het die rowers agternagesit en is in die gesig en maag getref. Hy is op die toneel dood. Dirkie het na die motorhuis gekruip, die deur oopgekry en om hulp geskree.

Francois het vroeër die week een van die gesteelde vuurwapens uitgeken nadat dit in ’n oop veld in Modelpark gevind is.

Curro Bankenveld het Dirkie op sosiale media beskryf as ’n persoon wat “elke kamer gevul het” met sy teenwoordigheid. “Sy energie het by jou gebly. Hy was die tipe persoon wat jou sy liefde laat voel het deur wat hy vir die mense rondom hom gedoen het.”

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button