Pikkewyne steel leerder van Pretoria se hart

’n 17-jarige leerder van Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria het tydens ’n mariene bewaringskamp in die Overberg meer geleer oor die beskerming van seelewe en haar droom om in dié veld te werk, verder ontwikkel.

Dani Bester (17) se liefde vir die see het reeds op laerskool haar toekomsdrome begin rig, berig Pretoria Rekord.

Vandag is mariene bewaring, veral die beskerming van koraalriwwe en seelewe, steeds ’n belangrike deel van die toekomsplanne van dié graad 11-leerder aan Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria.

Sy glo leerders moet die Nasionale Mariene Maand ondersteun, wat jaarliks van 1 tot 31 Oktober strek.

Bester, ’n inwoner van Waverley in die noorde van Pretoria, het onlangs aan die Y4C-mariene bewaringskamp in die Overberg deelgeneem. Die kamp het haar die geleentheid gebied om meer te leer oor mariene biologie, navorsing en die praktiese werk van mariene bewaringskundiges.

“Ek was nog altyd mal oor die see,” vertel sy.

Haar belangstelling in die see het by haar grootouers, Jenny en Fanie Louw, begin. Die Louws het met ’n seiljag om die wêreld gevaar. Hulle reise en die verhale wat sy daaroor gehoor het, het haar as kind geboei en haar belangstelling in ’n lewe naby die see geprikkel.

Sy het ook baie vakansies in KZN deurgebring, waar sy die tropiese mariene omgewing kon ervaar en tyd langs die kus kon deurbring.

Dit was dus geen verrassing dat Bester ’n loopbaan in die natuur begin oorweeg het nie.

Haar belangstelling het reeds tydens haar laerskooljare spesifiek op koraalriwwe begin fokus.

Natuur verander voortdurend

Sy hou daarvan dat die natuur voortdurend verander en dat elke dag nuwe waarnemings en ontdekkings meebring.

Haar ma, Didi, het haar aangemoedig om vir die vyfdaagse Y4C-kamp in te skryf nadat sy die program op ’n webwerf ontdek het.

Bester wou ’n beter begrip kry van die werk wat mariene bioloë en bewaringskundiges doen. Sy wou ook vasstel of die studierigting wat sy vir haarself in die vooruitsig stel, werklik by haar belangstellings pas.

Sy het veral uitgesien na die wetenskaplike en navorsingsaspekte van mariene bewaring. Omdat die kamp se leiers in dié veld werk of studeer, kon sy ook meer leer oor die studierigting en die skoolvakke wat daarvoor nodig is.

Een van die hoogtepunte waarna sy uitgesien het, was die moontlikheid om die Mariene Groot Vyf te sien: die suidkaper, grootwithaai, dolfyn, Kaapse pelsrob en Afrika-pikkewyn.

Sy was veral verras deur die pikkewyne se vermoë om ver die oop see in te swem.

“Dit is interessant hoe rats en vinnig hulle deur die water beweeg en glad nie geïntimideer word deur die groot deinings van die see nie.”

Die groep was ook gelukkig genoeg om ’n boggelrugdolfyn te sien. Dié waarneming was vir Bester besonders. Die Indiese Oseaan-boggelrugdolfyn (Sousa plumbea) word as ’n bedreigde spesie geklassifiseer, maar die spesie wat die groep waargeneem het, is nie bevestig nie.

Pikkewynkuikens

Die kamp se aktiwiteite het haar ook die geleentheid gebied om prakties by navorsing betrokke te raak.

“Dit was so spesiaal om deel te wees van die data-insameling vir werklike navorsing,” sê sy.

Nog ’n hoogtepunt was ’n besoek aan ’n pikkewynrehabilitasiesentrum in Gansbaai. Daar kon sy pikkewynkuikens vashou terwyl hulle gevoer is.

Sy het ook meer geleer oor walvisgedrag en die nesgewoontes van brilpikkewyne. Sy het onder meer gehoor hoe kunsneste gebruik word om pikkewyne te help nadat guano, wat vroeër as nesmateriaal gedien het, vir bemesting geoes is.

Dié praktyk het pikkewyne se natuurlike nesomgewing benadeel.

“Aangesien pikkewyne lewenslank paar, keer hulle elke jaar na dieselfde nes terug.”

Benewens die nuwe kennis en besondere ervarings, het die kamp haar meer bewus gemaak van die bedreigings vir mariene ekosisteme.

Oorbevissing is een van die kwessies waaroor sy die grootste kommer uitspreek. ’n Dokumentêr wat tydens ’n fliekaand vertoon is, het haar perspektief op die visbedryf verander.

Die kamp het haar ook laat besef hoe belangrik vakke soos chemie en biologie vir verdere studie in mariene biologie is.

Vir haar bly die aantrekkingskrag van die natuur juis dat dit nooit stilstaan nie.

“Elke dag bring iets anders mee en ek is mal daaroor.”

Haar belangstelling strek egter verder as ’n toekomstige beroep.

“Ons oseane is noodsaaklik vir ons oorlewing en ons moet nou aksie neem om dit te beskerm en bewaar voordat dit te laat is.”

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button