Nog ’n kind sterf in fratsongeluk in Vanderbijlpark

’n Jong seun se dood by Emerald Resort & Casino is die jongste tragedie in ’n jaar waarin verskeie kinders se lewens landswyd deur fratsongelukke geëis is.

’n Gesinsdag by Emerald Resort & Casino in Vanderbijlpark het Saterdagaand (31 Oktober) in ’n tragedie geëindig toe ’n jong seun in ’n fratsongeluk dood is, berig die Vaalweekblad.

Die seun, wat volgens omstanders vermoedelik tussen sewe en tien jaar oud was, het glo bo-op die bult voor die casino se ingang gespeel toe hy aan die agterkant daarvan afgerol het.

Hy het na bewering sy kop tydens die val teen ’n lamppaal gestamp.

Twee ambulansdienste het op die toneel aangekom, maar kon niks meer vir die seun doen nie. Hy is op die toneel dood verklaar.

Vaalweekblad het Emerald Resort & Casino se bestuur om amptelike kommentaar genader, maar geen reaksie is teen publikasietyd ontvang nie.

Vanderbijlpark reeds vanjaar deur soortgelyke tragedie getref

Die jongste voorval volg enkele maande nadat ’n ander gesin in Vanderbijlpark deur ’n soortgelyke tragedie geruk is.

’n Vierjarige seuntjie is in Junie dood nadat ’n swaar staaltafel op hom omgeval het terwyl hy saam met ’n maatjie in die erf van hul woning in CW6 gespeel het.

Die tafel het hom noodlottig teen die nek getref. ER24, Netcare 911 en die polisie het op die toneel gereageer.

Ander families ook vanjaar deur hartseer getref

Die Vaaldriehoek-tragedie is nie ’n geïsoleerde geval nie.

In Maart is die negejarige Mynhardt Moolman van Middelburg dood nadat ’n swaar trekkerband op hom geval het terwyl hy saam met sy pa by die werkplek was. Sy ouer broer was naby hom toe die ongeluk gebeur het.

Mynhardt se ma het later vertel hoe moeilik dit vir die gesin was om die skielike verlies van hul jongste seun te verwerk.

In Julie het nog ’n gesin in Bongolethu, buite Oudtshoorn, hul driejarige dogtertjie, Dianielle Rhodes, verloor nadat ’n baksteenpilaar van ’n grensmuur op haar geval het terwyl sy buite gespeel het.

Haar pa, Henry Rhodes, was besig om passasiers te vervoer toe sy 14-jarige seun hom gebel het om die nuus te vertel.

Vir die families wat deur hierdie tragedies geraak is, het gewone oomblikke van speel en tyd saam met geliefdes in ondenkbare verlies geëindig.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button