Vaaldriehoek-meisie ondergaan weer dringende operasie ná long platval
’n 10-jarige meisie van Vaalpark is steeds op ’n lang pad na herstel nadat sy in Oktober ernstig in ’n skoolvervoerongeluk beseer is.
Dané Greyling (10), ’n leerder aan JCS Independent School wat op 8 Oktober ernstig in ’n skoolvervoerongeluk beseer is, het Dinsdag (17 November) weer ’n mediese prosedure ondergaan nadat haar regterlong platgeval het, berig die Vaalweekblad.
Haar pa, Dandrè Greyling, het op Fakkel Gemeente se Facebookblad laat weet dat sy uit die teater is en dat alles glad verloop het.
Volgens Dandré het skanderings getoon dat Dané se regterlong platgeval het. Sy moes weer ’n trageostomie ondergaan sodat mediese personeel slym uit haar longe kon verwyder.
Dané sou ook medikasie ontvang om haar diafragma, die spier wat ’n belangrike rol in asemhaling speel, te help versterk.
“Gebed asb. (sic) vir die Here om op hierdie stadium haar longe te genees en haar diafragma sterk te maak.”
Hoewel Dané die afgelope weke tekens van herstel getoon het, het sy volgens Dandré teeds geen beweging in haar onderlyf gehad nie.
Dandrè het vroeër gesê ondersoeke het getoon dat haar rugmurg nie afgesny is nie, maar wel ernstig beseer is. ’n Neuroloog het ook ondersoeke gedoen om die senuweefunksie in haar bene te bepaal.
“Die dokters is nie baie positief nie, maar ek glo met God is enigiets moontlik. Hy mag dit ook nie nou genees nie, maar dalk ’n ruk later.”
Daar was egter ook positiewe tekens van vordering. Dané het onlangs ’n rugstut ontvang en het reeds begin om klein hoeveelhede kos self te eet, hoewel haar ouers haar steeds met etes help.
Haar gemoedstoestand het ook verbeter. Sy ontvang sielkundige ondersteuning en kon onlangs vir die eerste keer sedert die ongeluk haar boetie sien. ’n Maatjie het haar ook besoek.
Die gesin het voorheen gehoop dat Dané binnekort van aanvullende suurstof afgehaal en na ’n Netcare-herstel- en rehabilitasiesentrum in Auckland Park oorgeplaas sou kon word.
Dandrè het weer ’n beroep op mense gedoen om vir sy dogter te bid.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za