Terugslag vir Vaal se vegtertjie
Vaalpark se Dané Greyling (10) het ’n terugslag in haar herstel beleef nadat haar regterlong platgeval het. Sy moes weer ’n mediese prosedure ondergaan, maar volgens haar pa het alles goed verloop.
VAALPARK – Dané Greyling (10), die leerder van JCS Independent School wat op 8 Oktober ernstig in ’n skoolvervoerongeluk beseer is, het 17 November weer ’n mediese prosedure ondergaan nadat haar regterlong platgeval het.
Haar pa, Dandrè Greyling, het op Fakkel Gemeente se Facebookblad laat weet dat sy uit die teater is en dat alles glad verloop het.
Volgens ’n vroeëre opdatering van Dandrè het skanderings van Dané se longe getoon dat haar regterlong platgeval het. Hy het destyds gesê dat sy weer ’n trageostomie moet ondergaan sodat mediese personeel slym uit haar longe kan verwyder.
Dané sou ook medikasie ontvang om haar diafragma, die spier wat ’n belangrike rol in asemhaling speel, te help versterk.
“Gebed asb. vir die Here om op hierdie stadium haar longe te genees en haar diafragma sterk te maak.”
Die jong leerder het die afgelope weke tekens van herstel getoon, maar het volgens haar pa se vorige terugvoer steeds geen beweging in haar onderlyf gehad nie.
Dandrè het vroeër gesê dat ondersoeke getoon het dat haar rugmurg nie afgesny is nie, maar wel ernstig beseer is. ’n Neuroloog het ook ondersoeke gedoen om die senuweefunksie in haar bene te bepaal.
“Die dokters is nie baie positief nie, maar ek glo met God is enigiets moontlik. Hy mag dit ook nie nou genees nie, maar dalk ’n ruk later.”
Dané het onlangs ’n rugstut ontvang en het reeds begin om klein hoeveelhede kos self te eet. Haar ouers help haar steeds met eet. Haar gemoedstoestand het ook verbeter. Sy ontvang sielkundige ondersteuning en kon onlangs vir die eerste keer sedert die ongeluk haar boetie sien.
’n Maatjie het haar ook besoek.
Die gesin het voorheen gehoop dat Dané binnekort van aanvullende suurstof afgehaal en na ’n Netcare-herstel- en rehabilitasiesentrum in Auckland Park oorgeplaas sou kon word.
Dandrè het mense weer gevra om vir sy dogter te bid.
