Meyerton-vrou se lus vir duur koffie agter tralies geblus
’n 74-jarige vrou van die Vaaldriehoek se vorige veroordelings het uiteindelik swaarder geweeg as haar ouderdom toe ’n landdros bevind het dat sy nie met ’n ligter straf kan wegkom nie.
Manaki Lucia Sizane sal die volgende drie jaar agter tralies deurbring nadat die Meyerton-landdroshof haar vroeër die week skuldig bevind het aan diefstal van agt flesse duur koffie.
Sizane het die koffie, ter waarde van sowat R1 920, op 11 September by ’n OK Foods-winkel in Meyerton gesteel, berig die Vaalweekblad.
Dit was egter nie haar eerste kennismaking met die gereg oor koffiediefstal nie. Die staat het tydens die vonnisoplegging verwys na 19 vorige veroordelings vir diefstal oor ’n tydperk van 38 jaar.
Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Sizane die hof gevra om haar ’n vonnis sonder direkte gevangenisstraf op te lê.
Die staat het daarteenoor op direkte tronkstraf aangedring, met verwysing na haar lang geskiedenis van diefstal.
Koffiediefstal deel van lang misdaadgeskiedenis
In ’n vorige saak het die Vereeniging-landdroshof haar ’n boete van R4 000 of agt maande gevangenisstraf opgelê nadat sy Jacobs Krönung-koffie ter waarde van R1 529,91 gesteel het.
Volgens Mahanjana het die Meyerton-landdroshof met die staat saamgestem dat Sizane geen berou getoon het nie en nie uit haar vorige veroordelings geleer het nie.
Sekuriteitskameras wys hoe koffie verdwyn
Die diefstal by die Meyerton-winkel is eers die volgende dag ontdek toe die winkelbestuurder tydens ’n voorraadopname agtergekom het dat agt flesse koffie vermis word.
Nadat die verkoopsrekords bevestig het dat die koffie nie verkoop is nie, het die bestuurder die winkel se sekuriteitsbeeldmateriaal nagegaan.
Die kameras het gewys hoe Sizane en ’n ander vrou die flesse onder hul klere wegsteek en die winkel verlaat sonder om daarvoor te betaal.
Toe die twee vroue later dieselfde dag na die winkel terugkeer, het die bestuurder hulle herken en sekuriteit en die polisie ontbied.
Die ander vrou het op die vlug geslaan, maar Sizane is in hegtenis geneem.
Die NVG se Batebeslagleggingseenheid het ook twee konfiskeringsbevele met ’n gesamentlike waarde van R3 449,83 in verband met die Meyerton- en Vereeniging-sake verkry.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za