News

Vrou (74) kry drie jaar tronkstraf vir koffiediefstal in Meyerton

Volgens die staat is die 74-jarige vrou reeds 19 keer aan diefstal skuldig bevind.

OPDATERING – 2026/11/26 – 10:55

Die storie is opgedateer om die nuutste info wat aan die lig gekom het weer te gee.


MEYERTON – Die Meyerton-landdroshof het Manaki Lucia Sizane (74) tot drie jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat sy skuldig gepleit het op ’n aanklag van diefstal.

Sy het in September agt flesse Douwe Egberts-koffie ter waarde van sowat R1 920 by ’n OK Foods-winkel in Meyerton gesteel.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan die media gesê Sizane het die hof gevra om haar ’n vonnis sonder tronkstraf op te lê.

Die staat het vir direkte tronkstraf gevra en gewys op haar 19 vorige veroordelings vir diefstal tussen 1988 en 2026.

In ’n vorige saak het die Vereeniging-landdroshof haar ’n boete van R4 000 of agt maande tronkstraf opgelê vir die diefstal van Jacobs Krönung-koffie ter waarde van R1 529,91.

Volgens Mahanjana het die Meyerton-landdroshof met die staat saamgestem dat Sizane geen berou getoon het nie en nie uit haar vorige veroordelings geleer het nie.

Die diefstal in Meyerton het op 11 September plaasgevind. Volgens Mahanjana wys die winkel se sekuriteitskameras hoe Sizane en ’n ander vrou die flesse onder hul klere wegsteek en die winkel verlaat sonder om te betaal.

Die winkelbestuurder het die volgende dag tydens ’n voorraadopname agtergekom dat die koffie weg was. Nadat die verkoopsrekords gewys het dat die flesse nie verkoop is nie, het die bestuurder die beeldmateriaal nagegaan.

Toe die twee vroue later daardie dag terugkeer, het die bestuurder hulle herken en sekuriteit en die polisie ontbied.

Volgens Sekuriteit Sonder Grense (SSG) het sy gewapende reaksiespan na die OK Foods-winkel gegaan nadat personeel die paniekknoppie gedruk het. Met hul aankoms het personeel aan die span gesê die verdagte het pas in ’n voertuig vertrek. Hulle het die voertuig beskryf en die registrasienommer aan die span gegee.

SSG sê sy beamptes het die voertuig by die Engen-vulstasie in Johan le Roux-weg opgespoor. Hulle het Sizane daar geïdentifiseer en die gesteelde koffie teruggevind. Die polisie is ontbied en het haar in hegtenis geneem.

Volgens Mahanjana het die NVG se Batebeslagleggingseenheid ook twee konfiskeringsbevele met ’n gesamentlike waarde van R3 449,83 in die Meyerton- en Vereeniging-sake verkry.

Die voertuig wat Sekuriteit Sonder Grense (SSG) volgens die maatskappy by die Engen-vulstasie in Johan le Roux-weg in Meyerton opgespoor het. Foto verskaf deur SSG.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button