Network Sport

Mylpaal wink vir Cheetahs-strydros

Die kranige stut Aranos Coetzee sal vanaand vir die 150ste keer vir die Vrystaters uitdraf wanneer hulle die Pumas pak in Bloemfontein.

Die Toyota Cheetahs-strydros Aranos Coetzee draf vanaand in Bloemfontein vir die 150ste keer uit vir die Vrystaat wanneer hulle in die derde ronde van die SA Beker teen die Pumas te staan kom. Die sterk vaskopstut het in 2016 by die Cheetahs aangesluit nadat hy voorheen vir die Luiperds asook Racing 92 en Brive (albei in Frankryk) gespeel het, berig Bloemfontein Courant.

Die Namibiër is boonop ‘n veteraan op internasionale vlak en het al in drie wêreldbekers vir die Biltongboere uitgedraf. Hy het selfs onlangs nog vir die span in die kwalifiseringstoernooie gespeel, hoewel hulle nie daarin kon slaag om hul plek in die toernooi in Australië in 2027 te bespreek nie.

Van die sowat 1 800 spelers wat al vir die Vrystaat uitgedraf het, kon slegs ‘n handvol Blikore 150 of meer wedstryde speel, en ‘n spesiale pet is laat maak om Coetzee se groot mylpaal te gedenk.

Cheetahs-kaptein en Namibië se internasionale haker Chucky van der Westhuizen het aan Bloemfontein Courant gesê sy spanmaat verdien alle lof.

“Dis ‘n groot oomblik vir hom. Ek speel nou al sowat tien jaar, en hierdie is my elfde seisoen saam met Aranos,” sê Van der Westhuizen.

Hy is só ‘n spesiale ou – jy moet hom regtig leer ken. Hy kan soms moeilik wees, maar dit is deel van wat hom maak wie hy is. Ek is net baie bly vir hom, veral dat hy sy 150 hier in dié stadion bereik.”

Breier Frans Steyn het saam met Coetzee in Frankryk sowel as vir die Cheetahs gespeel, en hy meen die voorryman is ‘n goeie voorbeeld van ‘n Vrystaat-speler in murg en been.

“Kyk, ons moet die beste gebruik van hom maak terwyl ons nog kan,” sê Steyn.

“Ek weet nie hoe lank Nos nog gaan speel nie, maar ons gaan soveel as moontlik uit sy ervaring put.

“Ek het hom by Racing ontmoet toe ek 21 was, so ek ken hom al lank. Ek is baie bly vir hom, en ook vir die Cheetahs – hy het soveel vir hierdie unie gegee en deur alles hier gebly.

“Toe daar salarisverlagings was, het hy gebly. Hy is ‘n groot voorbeeld. Hy moet daardie kennis oordra aan die jonger ouens, en dit is die soort karakter wat ons in die Vrystaat wil hê – spelers wat hier wil bly, in Bloemfontein wil woon en hul gesinne hier wil bou.

“Hy is ‘n reuse-figuur in Vrystaat-rugby.”


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Morgan Piek

Die artikel is geskryf deur 'n joernalis van Bloemfontein Courant.

Related Articles

Back to top button