Wen Adam se nuwe CD

Die gewilde Afrikaanse sanggroep, Adam, gaan op Sondag, 22 Junie, by East Rand Traders om 2nm optree.

ischke@caxton.co.za

Adam se splinternuwe album getiteld, Goud, is einde Mei uitgereik. Die drie manne, Reynardt Hugo, Hugo Ludik en Kyle Grant het verder groot planne om Adam vanjaar tot nog hoër hoogtes te neem.

Hierdie groep wat nou amper vier jaar bedrywig is, het reeds in 2011 gewys dat die mark honger is vir ’n groep van hulle kaliber toe hulle ’n Ghoema Toekenning gewen het as Beste Nuweling.

In April vanjaar het hulle vir die groep Air Supply, wat in Suid-Afrika kom optree het, geopen.

Die groep het in Januarie vanjaar ’n nuwe blaadjie omgeslaan toe Kyle Grant by die groep aansluit, en sommer dadelik by die ritme van Adam aangepas.

Hugo sê die groepsdinamika is van besondere belang en hulle voel sommer baie tevrede met die keuse van Kyle as die nuwe lid.

Toe Hugo ’n paar jaar gelede begin speel het met die idee van ’n nuwe groep wat uit drie mansstemme bestaan, het hy vir Reynardt genader en toe het die soektog na ’n derde lid begin.

Hugo het ’n paar jaar vantevore saam met Kyle aan ’n vertoning gewerk en hy het gedink dat die talentvolle musikant goed by hulle groep sal inpas.

Op daardie tydstip het Kyle pas begin met ’n internationale toer van die musiekblyspel High School Musical, en was dus nie dadelik beskikbaar nie.

Nadat Joe Foster aan die einde van 2013 besluit het om sy sololoopbaan sy eerste prioriteit te maak, het daar meteens weer ’n geleentheid opgeduik en hierdie slag het Kyle dit aangegryp.

Nog ’n hoogtepunt vir Adam is hulle verskyning in die loket-treffer fliek Pad na jou hart.

Een gelukkige Advertiser leser staan ’n kans om ’n kopie van Adam se nuwe album Goud los te slaan. Om hierdie ongelooflike prys te wen, beantwoord die volgende vraag: Uit hoeveel groeplede bestaan Adam? SMS jou naam, die woord “Adam” en jou antwoord na 35718 teen 24 Junie. SMSe kos R1.50 elk. Die wenner sal telefonies in kennisgestel word. – @IschkeBoksburg

Exit mobile version