Bellissimo! Jaco Jacobs se roman nou ook in Italiaans beskikbaar

’n Goeie dag vir boomklim is die verhaal van Marnus, ’n gefrustreerde middelkind, wat hom een Desembervakansie laat ompraat om saam met ’n meisie in ’n boom te klim om te probeer keer dat die plaaslike owerheid dit afsaag.

 

LAPA Uitgewers is trots om aan te kondig dat vertaalregte vir Jaco Jacobs se bekroonde jeugroman ’n Goeie dag vir boomklim pas deur nog ’n groot internasionale uitgewery opgeraap is.

Die Italiaanse uitgewery Rizzoli het suksesvol teen ’n mededingende uitgewershuis gebie om die Italiaanse vertaalregte vir Jaco se boek te bekom.

Rizzoli is een van die grootste uitgewerye in Italië en wêreldbekende skrywers soos John Green (The Fault in Our Stars), Cressida Cowell (How to Train Your Dragon) en Michael Morpurgo (War Horse) se boeke word deur hulle in Italiaans uitgegee.

“Ek is steeds ietwat verstom, en natuurlik baie dankbaar,” sê Jaco.

“Dit is ’n ongelooflike voorreg om te sien hoe Marnus en Leila, die twee hoofkarakters in my storie, die kans kry om nou regoor die wêreld te gaan boomklim!”

’n Londense uitgewery, Oneworld Publications, het ’n Goeie dag vir boomklim verlede maand wêreldwyd in Engels gepubliseer. Die boek is tans ook in Suid-Afrika te koop as A Good Day for Climbing Trees.

In Oktober verskyn nog een van Jaco se boeke, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, oorsee as A Good Night for Shooting Zombies.

Exit mobile version