3 beskuldigdes kry borgtog ná klopjag op leeu- en tierwelpies in Pretoria

Drie mans het in ‘n Gautengse hof verskyn nadat verskeie wilde diere in East Lynne aangetref is.

Drie mans wat daarvan aangekla word dat hulle drie leeuwelpies, twee tierwelpies, twee bakoorjakkalse en drie rooikatte onwettig aangehou het, is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat, berig Pretoria Rekord.  

Schalk Derckson (24) en sy broer Johannes Michael (25), albei van East Lynne in Pretoria, asook Delron Matthew Lechon Abrahams (21) van Eersterust, het op Donderdag (19 November) in die Pretoriase landdroshof verskyn. 

Die drie staan tereg op aanklagte van die oortreding van Artikel 57(1) van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit, Wet 10 van 2004, en dieremishandeling. 

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag het die mans die beskermde spesies onwettig besit en in onveilige plastiekkratte aangehou. 

Die staat het nie hul borgtogaansoeke teengestaan nie, maar het versoek dat toepaslike voorwaardes opgelê word. Die hof het elkeen op borgtog van R10 000 vrygelaat, op voorwaarde dat hulle hul paspoorte aan die ondersoekbeampte oorhandig en weekliks by hul naaste polisiestasie aanmeld. 

Die saak is tot 16 Februarie 2027 uitgestel vir verdere ondersoek. 

Die klopjag 

Die diere is Dinsdag (17 November) tydens ’n klopjag by ’n privaat woning in East Lynne aangetref en gekonfiskeer. Hulle word nou by die Pretoria-dieretuin versorg terwyl die strafregtelike ondersoek voortduur. 

Omgewingsbestuursinspekteurs van die departement van bosbou, visserye en die omgewing, beter bekend as die Groen Skerpioene, het die klopjag met ondersteuning van Gauteng se Groen Skerpioene en die SAPD uitgevoer. 

Volgens die departement het die ondersoek begin nadat ’n informant berig het dat wilde diere op sosiale media te koop aangebied word. Kommunikasie met die adverteerder het aangedui dat leeuwelpies, tierwelpies en rooikatte glo te koop was. 

Die ondersoek is met toestemming van die Noord-Gautengse Direktoraat van Openbare Vervolging ingevolge Artikel 252A van die Strafproseswet, 1977, gemagtig. 

Die diere is gekonfiskeer nadat permitte wat die beperkte aktiwiteite met die betrokke spesies magtig, nie getoon kon word nie. 

Minister David Maynier het die operasie as ’n voorbeeld van samewerking tussen omgewingsowerhede en wetstoepassingsagentskappe beskryf. 

“Onwettige wildhandel bedreig beskermde spesies en ondermyn Suid-Afrika se bewaringspogings. Sterk samewerking tussen omgewingsowerhede en wetstoepassingsagentskappe is noodsaaklik om hierdie misdade te ondersoek en vermeende oortreders voor die hof te bring,” het hy gesê. 

Die groter probleem met grootkattehandel 

Die beslaglegging vestig die aandag op Suid-Afrika se kommersiële grootkatbedryf en die moontlike verband tussen wettige teelbedrywighede en onwettige handel. 

Fiona Miles, die direkteur van die dierewelsynsorganisasie Four Paws, sê die organisasie kan nie bespiegel oor die oorsprong van die spesifieke welpies nie, aangesien die polisieondersoek steeds aan die gang is. 

Four Paws se navorsing toon egter dat wettige en onwettige handel in grootkatte nie noodwendig afsonderlike bedrywighede is nie. 

“Ons het netwerke geïdentifiseer wat groot teelfasiliteite bedryf wat op openbare interaksie met grootkatte fokus, maar terselfdertyd lewende diere en bene verhandel. Ander bied ’n volledige diens, van die aankoop van diere tot wettige of vervalste dokumentasie en vervoer,” sê Miles. 

Volgens haar kan wettige bedrywighede as dekmantel vir onwettige handel dien. Sy meen die kommersiële teel van grootkatte is ’n onderliggende dryfveer, ongeag of diere by geregistreerde plase of agterplaasbedrywighede vandaan kom. 

Sy wys ook op die gebrekkige regulering van tiere in Suid-Afrika. Omdat tiere nie inheems is nie, word hulle as uitheemse spesies geklassifiseer en verskil die regulasies van provinsie tot provinsie. 

Four Paws se navorsing het bevind dat Gauteng in 2022 aangedui het dat geen permit nodig was om tiere aan te hou nie, terwyl Limpopo gesê het tiere word nie deur sy omgewingswetgewing gereguleer nie. 

Die gebrek aan ’n verpligte nasionale register waarin tiergetalle, geboortes, sterftes en bewegings aangeteken word, maak dit volgens Miles moeilik om die omvang van die handel te bepaal. 

“Niemand, insluitend Suid-Afrikaanse owerhede, weet presies hoeveel tiere in die land is nie. Gefragmenteerde regulering beteken dat tiere relatief maklik geteel, doodgemaak en verhandel kan word,” sê sy. 

Welpies betaal die prys 

Die vraag na grootkatwelpies word onder meer deur toerismebedrywighede, private aanhouding en internasionale handel aangedryf. 

Miles sê welpies wat vir toeriste-interaksie gebruik word, word dikwels binne dae ná geboorte van hul ma’s geskei. Dit ontneem hulle van noodsaaklike voedingstowwe en die geleentheid om natuurlike gedrag en sosiale vaardighede by hul ma’s aan te leer. 

Dit kan tot voedingsgebreke, verswakte immuunstelsels en gedragsprobleme lei. Onvoldoende inentings en ontwurming, asook inteling, kan verdere gesondheidsprobleme veroorsaak. 

“’n Deeglike veeartsenykundige beoordeling is daarom noodsaaklik,” sê Miles. 

Volgens haar kan grootkatte wat in gevangenskap gebore en grootgemaak is, nie bloot in die natuur vrygelaat word nie. Hulle behoort eerder in behoorlike toevlugsoorde te bly waar hulle lewenslange sorg ontvang en nie geteel of vir menslike interaksie gebruik word nie. 

Four Paws doen daarom ’n beroep op die volledige uitfasering van Suid-Afrika se kommersiële grootkatbedryf, met ’n sentrale register vir tiere en strenger toesig oor die aanhou en vervoer van dié diere. 

“Wilde diere is nie troeteldiere nie. Hulle het ingewikkelde behoeftes wat voeding, ruimte, gedrag, klimaat en sosiale strukture insluit, wat nie in ’n huis bevredig kan word nie,” sê Miles. 

Sy waarsku dat openbare interaksie met welpies, insluitend stap- en selfiesessies, die kommersiële teelbedryf ondersteun. 

“Moenie aan ’n speel-en-streelsessie met ’n leeuwelpie, jagluiperd of tierwelpie deelneem nie. Jy word deel van die probleem.” 

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button