Aftreeoord se grasperk word NWU-studente se somerkuierplek

Studente in swemklere, braaivleisgeure en 'n duik of twee in die Mooirivier - welkom by studente se eie ‘Potch-vakansieoord’.

Op ’n vuurwarm somersdag verander honderde studente die lowergroen grasperk van die Groen Wilgers-aftreeoord langs die oewer van die Mooirivier in iets wat omtrent soos ’n swemstrand in Rio de Janeiro lyk, berig die Potchefstroom Herald.

Waar jy kyk, is ’n student in swemklere besig om son te vang, met ’n bollemakiesie in die rivier te duik of bloot op ’n lilo of tube rustig in die water te dryf. Hier en daar steek ’n paar manne ’n vuurtjie aan om te braai.

Daar is ’n vlugbalnet opgestel waar die studente hul eie weergawe van strandvlugbal  beoefen. ’n Klipgooi verder is daar ’n krieketstryd aan die kook.

Vir die studente is dit ’n gulde geleentheid om voor die eksamentyd ’n bietjie stoom af te blaas.

Vir Anzel Muller en haar vriendinne, Shanel Jardim, Mia Hoffman en Mardelle Kleynhans, is dit omtrent soos Potch se eie vakansieoord.

Ander studente meen dat die plek ’n veilige en netjiese ruimte bied waar hulle bloot kan ontspan.

Studente stroom reeds van Vrydagmiddag tot Sondagmiddag na hierdie privaat eiendom, waar dié somertradisie onder studente intussen goed gevestig geraak het.

Die studente blaas stoom af. Foto: Wouter Pienaar

Die inwoners van Groen Wilgers verwelkom juis die vrolikheid en steek ook vuurtjies op hul stoepe aan terwyl hulle rustig na die joligheid voor hulle kyk.

Van die inwoners van Groen Wilgers-aftreeoord geniet die vrolikheid wat voor hul afspeel.

Van die inwoners van Groen Wilgers-aftreeoord geniet die vrolikheid wat voor hulle afspeel. Foto: Wouter Pienaar

“Die studente kuier lekker hier en bring ’n warm atmosfeer. Hulle ruim ook mooi op voor hulle gaan en los alles netjies. Vir my is dit wonderlik om te sien hoe die jongmense dit geniet.

“Ek het al gedink om sommer koeldrank aan hulle te verkoop,” vertel een van die inwoners.

Vir studente is die grasperk van die Groen Wilgers-aftreeoord die plek om oor naweke te wees.

Dit is waar twee generasies saamsmelt.

Die Potchefstroom Herald het die Groenwilgers-aftreeoord se bestuur gekontak rondom die hoeveelheid studente wat op hul privaateiendom oor naweke is. Sodra terugvoer ontvang is sal die Herald hul kommentaar byvoeg.

Vlugbal is een van die grootste trekpleisters. Foto: Wouter Pienaar

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.
Back to top button