Groen Wilgers se grasperk word studente se somerparadys
Studente in swemklere, braaivleisreuke en 'n duik of twee in die Mooirivier - welkom by studente se "Potch Vakansieoord."
Op ’n vuurwarm somersdag verander honderde studente die lowergroen grasperk van die Groen Wilgers-aftreeoord langs die oewer van die Mooirivier in iets wat omtrent soos ’n swemstrand in Rio de Janeiro lyk.
Waar jy kyk, is ’n student in swemklere besig om son te vang, met ’n bollemakiesie in die rivier te duik of bloot op ’n lilo of tube rustig in die water te dryf. Uit die hoek van jou oog steek ’n paar manne ’n vuurtjie aan om te braai.
Daar is ’n vlugbalnet opgestel waar die studente hul eie vorm van “beach volleyball” beoefen. ’n Klipgooi verder is daar ’n krieketstryd aan die kook.
Vir die studente is dit ’n gulde geleentheid om voor die eksamentyd ’n bietjie stoom af te blaas.

Martelize Barnard, Chanté Leppan, PS Stassen en Stiaan de Goede.
Vir Anzel Muller en haar vriendinne, Shanel Jardim, Mia Hoffman en Mardelle Kleynhans, is dit omtrent soos Potch se eie vakansieoord.
Ander studente meen dat die plek ’n veilige en netjiese ruimte bied waar hulle bloot kan ontspan.
Studente stroom reeds van Vrydagmiddag tot Sondagmiddag na hierdie privaat eiendom, waar dié somertradisie onder studente intussen goed gevestig geraak het.
Die inwoners van Groen Wilgers verwelkom juis die vrolikheid en steek ook vuurtjies op hul stoepe aan terwyl hulle rustig na die joligheid voor hulle kyk.

“Die studente kuier lekker hier en bring ’n warm atmosfeer. Hulle ruim ook mooi op voor hulle gaan en los alles netjies. Vir my is dit wonderlik om te sien hoe die jongmense dit geniet. Ek het al gedink om sommer koeldrank aan hulle te verkoop,” vertel een van die inwoners.
Vir studente is die grasperk van die Groen Wilgers- aftreeoord die plek om oor naweke te wees.
Daar waar twee generasies saamsmelt.
Foto’s: Wouter Pienaar










