As ek kan, kan jy – Prop se LIG-konsert kry R1.9m-hupstoot
’n Verrassingskenking aan Solidariteit Helpende Hand se sesde LIG-konsert gaan nuwe studiegeleenthede bied vir jongmense wat met gestremdhede saamleef.
Die trane het oor sy wange gerol toe hy hoor dat iemand R1.9 miljoen in ‘n testamentêre bepaling aan Solidariteit Helpende Hand se Liefde in Gestremdheid (LIG)-fonds nagelaat het.
Prop, ’n Suid-Afrikaanse sanger met achondroplasie, oftewel ‘n vorm van dwerggroei, het besef dat sy droom, wat ses jaar gelede met ’n klein konsert begin het, gegroei het tot ’n konsert wat hoop bied vir mense met gestremdhede in Suid-Afrika.
“Ek wou vanjaar nie aan die LIG-konsert deelneem nie, want my werk as argitek en natuurlik ook as pa van twee woelige peuters hou my baie besig. Maar ná vanaand het ek besef dat die konserte tog iets vir mense beteken,” het Prop, wie se regte naam Jan-Adriaan van Rooyen is, Saterdagaand (24 Oktober) by die AfriForum-teater in Pretoria gesê.
Die LIG-konsert het in 2021 uit ’n persoonlike verlies ontstaan wat Prop beleef het. Sy oom Herman is in 2020 aan Covid-19 oorlede.
’n Droom wat Prop die aand voor sy oom se begrafnis gehad het, het hom laat nadink oor verlies, geloof en die nalatenskap wat ’n mens agterlaat.
In die droom het hy sy oom in ’n ou kerk gesien, omring deur groen gras. Die beeld het hom bygebly, veral omdat hy geglo het dat die droom moontlik ’n dieper betekenis gehad het.
“Ek is ’n gelowige en het gevoel dat die droom iets moes beteken,” het Prop vertel.
Prop sê sy oom was iemand met ’n goeie hart. Hy wou nie net oor sy oom se dood treur nie, maar eerder iets skep wat die positiewe invloed wat sy oom op ander gehad het, sou weerspieël.
Sy verlies het hom laat besef dat hy iets wou doen om ander mense te help wat met uitdagings saamleef.
Dié idee het gegroei tot ’n musiekkonsert wat nie net geld insamel nie, maar ook bewustheid skep oor mense met gestremdhede en hul lewenservarings.
Vanjaar is die konsert ook aanlyn uitgesaai en sowat 2 000 mense in tehuise regoor Suid-Afrika het na die vertoning gekyk.
“Dit is die grootste konsert wat ons nog gehou het,” het Hannes Noëth, die uitvoerende hoof van Helpende Hand, gesê.
Elvis Blue het ook vanjaar by die geleentheid opgetree.
‘n Hupstoot wat studente help
Noëth het gesê hulle is ‘bitter dankbaar’ oor die skenking.
“Ons kon die afgelope ses jaar net drie studente met gestremdhede met studiebeurse help. Nou het ons genoeg geld om 33 studente te help.”
Volgens Noëth is dit ongewoon dat mense testamentêre skenkings aan organisasies nalaat wat mense met gestremdhede ondersteun.
“Ek weet nie wat die redes daarvoor is nie. Mense laat eerder geld aan dierewelsynorganisasies of kerke na.”
Maand van bewusmaking
Van 3 November tot 3 Desember word Nasionale Gestremdheidsregtebewustheidsmaand gevier.
Luidens ’n verklaring van die Suid-Afrikaanse regering fokus die maand op die regte, waardigheid, gelykheid en insluiting van mense met gestremdhede, asook die verwydering van hindernisse wat hulle verhinder om ten volle aan die samelewing deel te neem.
Prop beskou dit as ’n goeie inisiatief van die regering, maar meen dat mense met gestremdhede soms oor dieselfde kam geskeer word.
“Ons het almal ons unieke uitdagings, en ons is nie almal dieselfde nie.’’
Hardhorende mense in Suid-Afrika
Hardhorende mense kan kommunikasie-uitdagings ervaar, veral wanneer hulle nie gebaretaal gebruik nie. ’n Hardhorende man van Pretoria, wat verkies om anoniem te bly, sê dat sommige transaksies, soos versekering en banksake, oor die telefoon gedoen moet word.
“Dit is moeilik om met die mense te kommunikeer, want ek kan hulle nie hoor nie.’’
Hy werk vir die regering en staar enorme uitdagings in die gesig.
“Die klankstelsels tydens vergaderings is nie van die hoogste kwaliteit nie en sommige van die sprekers praat binnemonds en onduidelik. Dit veroorsaak geweldige spanning en depressie, want ek sukkel om my dagtake na behore uit te voer.”
Hy sê die regering gebruik graag die woord ‘inklusiwiteit’. “Ek stem saam met Prop dat elke gestremde se uitdagings uniek is. Die regering weet nie noodwendig hoe om veilige ruimtes vir mense met verskillende behoeftes te skep nie.’’
Op die baadjie getakseer
Prop se grootste uitdaging is om in die musiekbedryf te oorleef, waar kunstenaars volgens hom dikwels eerder op hulle voorkoms as hul talent beoordeel word.
Dit is ook waarom hy besluit het om by projekte soos die LIG-konsert betrokke te raak.
Hy is kort. Hy staan 1.42 meter in sy sokkies. Hy kan nie sy boude skud soos Brendan Peyper en Bobby van Jaarsveld nie, sê hy.
Hy is ook nie ’n blonde spiertier wat sy sespak op die verhoog kan wys nie, sê hy.
Tog het die publiek gaandeweg ‘verlief’ geraak op dié sanger, wat glo dat daar met ‘n positiewe gesindheid baie vermag kan word.
“My ouers het my van jongs af geleer om vir myself te lag. Ek dink dit is waarom ek ook nooit op skool oor my kleiner postuur geboelie is nie. Ek dink ook my humorsin is aansteeklik en dit het mense na my toe aangetrek.”
En soos Prop sê: “As ek kan, kan jy.”
Sangers en kunstenaars met gestremdhede in die Afrikaanse musiekbedryf
Daar is nie baie kunstenaars met gestremdhede in die Afrikaanse vermaakbedryf nie, maar verskeie het ondanks hul uitdagings ’n naam in die musiekbedryf gemaak.
Mathys Roets is sedert ’n motorfietsongeluk in 2009 van ’n rolstoel afhanklik, maar het sy musiekloopbaan voortgesit.
PJ Durr is gesiggestremd en die voorsanger van die rockgroep TonnelVisie.
Jordan Pretorius is ’n sanger en kitaarspeler wat met osteogenesis imperfecta, ook bekend as brosbeensiekte, gebore is. Hy gebruik sy musiek om ander te inspireer.
Charné Hugo van Die Lieflinge is verlam en het ondanks haar fisieke uitdagings ’n loopbaan in die musiekbedryf opgebou.
Vernon Barnard, wat gesiggestremd is, het in 2016 die publiek se harte geraak met sy vertolking van The Story of My Life tydens The Voice South Africa.
Bacchus Nel is ’n blinde Afrikaanse sanger, liedjieskrywer, musikant en digter wat sy sig op die ouderdom van 21 in ’n motorongeluk verloor het. Hy het daarna musiek as kreatiewe uitlaatklep begin gebruik.
Tamlyn Wessels is ’n Afrikaanse sangeres van Pretoria wat in 2017, toe sy in Graad 7 was, met Guillain-Barré-sindroom gediagnoseer is. Dié seldsame outo-immuuntoestand het haar verlam gelaat. Ná ’n lang herstelproses het sy weer leer loop en haar musiekloopbaan voortgesit.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za