Buitelandse nagmerrie: Au pair vertel van uitdagings oorsee
Wat aanvanklik soos ’n rooskleurige geleentheid gelyk het, het vinnig in ’n nagmerrie ontaard vir ’n jong vrou van Noordwes.
Kihara van der Linde (22) van Potchefstroom se plan om geld as au pair in die buiteland te verdien om vir haar studies te betaal en daarby nuwe plekke en mense te ontdek, het in ‘n nagmerrie ontaard wat haar bitter vinnig laat terugverlang het na Suid-Afrika toe.
Van der Linde waarsku dat om as au pair in die buiteland te gaan werk deur baie mense as rooskleurig geskilder word, maar dat jy deeglik bewus moet wees oor die werklikhede waarvoor jy jouself inlaat.
Ná ‘n naatlose aansoekproses het sy ’n buitelandse familie vir ‘n onderhoud op Skype ontmoet.
“Ek het met die pa oor Skype gesels en die ma was in daardie stadium in die hospitaal. Ek het aangeneem dit is omdat sy siek was. Ons het toe ooreengekom dat ek onmiddellik sou oorgaan.”
Sy het op 21 Januarie 2024 na Alaska toe gevlieg waar sy vir ‘n paar dae opleiding ondergaan het voor sy by die familie aangesluit het.
Drie weke ná haar aankoms het dinge begin skeefloop. Van der Linde sê die vrou was aggressief teenoor haar en sy en haar kinders (drie en vyf jaar oud) het haar gereeld gevloek.
Sy beweer ook dat die vrou op ‘n stadium kos van haar weerhou het.
Van der Linde kon egter nie terugkom Suid-Afrika toe voor haar kontrak verstreke was nie, want sy het nie geld gehad om vir haar eie vliegtuigkaartjie te betaal nie.
Nadat sy na haar agentskap uitgereik het, is sy na ‘n nuwe gesin in Florida verplaas in Maart 2024.
Van der Linde sê dat sy soms tot 10 ure per dag moes werk en by haar agentskap gekla het omdat sy nie vir oortyd vergoed is nie. Die gesin het haar toe gevra om te loop toe daar nie ‘n ooreenkoms bereik kon word nie.
Sy is in September na ‘n nuwe gesin in Kalifornië, waar sy gebly het tot sy in Januarie vanjaar na Suid-Afrika teruggekeer het.
Sy sê dat sy by al die families met vuil huise en ongemanierde kinders te doen gehad het en dat sy moes help om kinders wat nog doek gedra het te leer om die toilet te gebruik en dan die gemors moes skoonmaak as hulle glipsies gemaak het. Sy het ook geïsoleerd gevoel omdat die families haar nie deel van hul aktiwiteite gemaak het nie.
“ ’n Mens is baie alleen. Mense laat dit klink asof jy gaan toer en nuwe mense gaan ontmoet en al hierdie wonderlike ervaringe gaan hê. Dit was glad nie die geval met my nie.”
Van der Linde gee die volgende wenke vir jongmense wat dit oorweeg om as au pair te werk:
- Vra die moeilike vrae. Daai vrae wat ‘n mens bang is om te vra, want jy wil nie die familie afskrik nie. Daar is baie families en só sal jy die rooi vlaggies raaksien.
- Bly soveel as moontlik in kontak met jou potensiële familie. Maak seker dat jy die ware prentjie kry van hoe dinge lyk by hulle huis.
- Praat altyd met die vorige au pairs en kry beide kante van ‘n storie. As families nie vir jou die kontakinligting van vorige au pairs wil gee nie, hou dan eerder verby.
- Vat jou tyd om ‘n familie te kies, moenie in ‘n blik gedruk voel met hulle tydlyn nie. Onthou, jy spandeer ‘n jaar saam met daai mense.
- Vertrou jou intuïsie, dit sal jou nooit mislei nie.
- Doen navorsing oor die agentskap wat jy kies en vra vir verwysings van ander au pairs wat reeds die program gedoen het.
- Lees die fynskrif van die agentskappe en maak seker dat dit ‘n agentskap is wat jou deur dik en dun sal bystaan.
- Jou koördineerder is jou beste vriendin in ‘n vreemde land. Jy kan haar met enige iets vertrou, wat jy met hulle bespreek sal nie deurgegee word aan die familie nie, tensy jy hulle vra om dit te bespreek. Hulle gee die beste raad en soms kort ’n mens net ‘n vars perspektief.
- Au pair-werk is een van die eensaamste werke wat daar is, die ure is rof en Amerika is groot, daar is nie noodwendig so baie au pairs naby jou nie.
- Stel vir jou ‘n begroting op en hou daarby. Maak vir jou ‘n lys van alles wat jy wil sien en doen, en gaan doen dit.
Van der Linde sê dat sy ‘n volledige vraelys opgestel het om vir families te vra. Jongmense wat daaraan dink om te gaan au pair en raad wil hê kan vir haar ‘n e-pos stuur na vanderlindekihara@gmail.com.
Read original story on www.citizen.co.za