Chubby Chick-skietvoorval: Verdagte vir die eerste keer in persoon in Potchefstroom-hof
Robert Joubert word daarvan beskuldig dat hy Deon en Jonathan Fourie in hul kantoor se raadsaal geskiet het.
Robert Joubert (73) het vandag (30 Januarie) vir die eerste keer in persoon voor die Potchefstroom-landdroshof verskyn vir die dubbele moord op die Fourie-broers, Jonathan en Deon, wat direkteure van Chubby Chick was.
Die beskuldigde is sedert November in die hospitaal behandel nadat hy tydens die skietvoorval in beide sy arms gewond is. Weens die erns van sy beserings het hy voor vandag nog nie in persoon in die hof verskyn nie.
Joubert het broos en bleek gelyk tydens sy eerste verskyning in die hof en kon nie sy regterarm gebruik nie. Hy is vanoggend voor sy hofverskyning uit Potchefstroom Hospitaal ontslaan, berig Potchefstroom Herald.
Hester Pretorius, die staatsaanklaer, het tydens die hofverrigtinge aansoek gedoen om die saak na die streekhof oor te plaas. Die saak is tot 25 Februarie uitgestel.
Joubert se regspan het versoek dat hy die nodige mediese behandeling in aanhouding sal kry, aangesien hy ‘n ernstige besering in sy regter elmboog het.
Pretorius het hulle verseker dat Joubert as buite pasiënt by Potchefstroom Hospitaal behandel gaan word en die nodige mediese hulp sal ontvang.
Die noodlottige skietery het 10 November 2025 by die broers se besigheid, Chubby Chick, in Potchindustria plaasgevind.
Jonathan Fourie is op die toneel doodgeskiet tydens die aanval, wat omstreeks 10:30 plaasgevind het. Sy broer Deon is kritiek gewond nadat hy na bewering twee keer in die nek geskiet is.
Deon is na ‘n hospitaal in Gauteng gehaas vir gespesialiseerde mediese behandeling, maar het ‘n maand later aan sy beserings beswyk.
Dié voorval, wat die plaaslike gemeenskap geskok het, word vermoedelik gekoppel aan ‘n eiendomstransaksie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za