Families eis antwoorde ná sterftes by Witrand-hospitaal in Potchefstroom 

’n Psigiatriese hospitaal in Noordwes het onder skoot gekom ná bewerings oor seksuele aanrandings, mishandeling en ’n tekort aan medikasie.

Vir Noeleen de Bruin is die dood van haar seun Riaan Jansen van Vuuren nie die einde van die verhaal nie. Langer as ’n jaar ná sy dood by Witrand-gespesialiseerde hospitaal in Potchefstroom wil sy steeds weet wat op sy laaste dag gebeur het en waarom sy nie ingelig is toe sy toestand versleg het nie. 

Die Potchefstroom Herald het oor die afgelope paar maande skokonthullings oor die toestand by die hospitaal oopgevlek.  

Riaan Jansen van Vuuren, ’n outistiese pasiënt wat sedert 2022 by die hospitaal versorg is, is in Maart 2025 oorlede. Sy ma sê die familie het hom aan die instelling se sorg toevertrou, maar dat hulle steeds nie duidelikheid het oor die omstandighede wat tot sy dood gelei het nie. 

“Ons wil weet wat daardie dag gebeur het. Ons kind was in die sorg van die hospitaal en ons wil weet hoekom hy nie betyds gehelp is nie,” sê De Bruin. 

Haar vrae kom te midde van toenemende kommer oor pasiëntveiligheid en die gehalte van sorg by Witrand, waar verskeie families reeds hul kommer oor die behandeling en versorging van geliefdes uitgespreek het. 

Die Noordwes Departement van Gesondheid het vroeër vanjaar ernstige tekortkominge by die hospitaal erken nadat ’n interne ondersoek na die dood van ’n ander pasiënt, Quinton du Plessis (40), in Junie 2025 gelas is. 

Die bevindings het nie net vrae oor individuele gevalle laat ontstaan nie, maar ook oor die groter probleme binne ’n instelling wat verantwoordelik is vir die versorging van die gemeenskap se kwesbaarste mense. 

‘Ons kind was in hulle sorg’ 

Volgens De Bruin was Jansen van Vuuren se gesondheid reeds tydens sy laaste besoek aan die huis in Februarie 2025 ’n rede tot kommer. 

“Die laaste keer wat hy by die huis was, was sy gesig geswel en sy oë baie rooi. Die hospitaal kon nie regtig antwoorde gee nie. Volgens een van die verpleegsters was dit die gevolg daarvan dat pasiënte buite op die warm sement gelê het,” sê sy. 

Op die dag van sy dood het Jansen van Vuuren volgens sy ma naar begin word. Sy beweer dat sy nie betyds van sy verslegtende toestand in kennis gestel is nie. 

Hy is na die hospitaal se versorgingseenheid geneem, maar sy toestand het nie verbeter nie. Hy is later na Potchefstroom-hospitaal oorgeplaas. 

“Die dokters kon daarin slaag om sy hart weer aan die gang te kry, maar hy is later die aand oorlede. Soos ek verstaan, was daar braaksel in sy longe,” sê De Bruin. 

’n Vergadering met die hospitaal se bestuur het volgens haar ook nie die antwoorde opgelewer waarop die familie gehoop het nie. 

Witrand se bestuur het deur Nico Masiu, die assistentdirekteur van kommunikasie, bevestig dat die familie geraadpleeg is en dat ’n volledige verslag aan hulle beskikbaar gestel is. Volgens die hospitaal is die saak daarna afgesluit. 

“Die hospitaal weerhou verdere kommentaar uit respek vir pasiëntvertroulikheid, aangesien ons nie besonderhede oor die oorledene met derde partye mag deel nie,” het Masiu gesê. 

Vir De Bruin is die saak egter nie afgehandel nie. Sy wil weet of haar seun betyds gehelp is en of enigiets anders gedoen kon word om sy lewe te red. 

Ander familie weier om op te gee 

Jansen van Vuuren  se ma is nie die enigste familielid wat steeds antwoorde oor ’n geliefde se dood soek nie. 

Quinton du Plessis is op 12 Junie 2025 oorlede nadat hy as langtermynpasiënt by Witrand versorg is. Sy dood het ernstige bewerings van moontlike mishandeling en seksuele aanranding tot gevolg gehad. 

Sy suster, Colette, het volgehou dat die familie geregtigheid vir haar broer se dood wil hê. 

’n Ondersoekspan, bestaande uit nege lede, is aangestel om die omstandighede rondom sy dood en die hospitaal se bedrywighede te ondersoek. 

Op 17 September het Sello Lehari, die Noordwes-LUR vir Gesondheid, die bevindings bekendgemaak. 

Hoewel die ondersoek nie bewerings van fisieke mishandeling bevestig het nie, is die kneusplekke wat waargeneem is, volgens die departement aan komplikasies weens Quinton se mediese toestand toegeskryf. 

Die bewering van seksuele aanranding was steeds onbeslis omdat die polisieondersoek voortgeduur het. Die nadoodse ondersoekverslag was ook nog uitstaande toe die departement sy verslag gefinaliseer het. 

Die ondersoek het nietemin verskeie ernstige probleme by Witrand blootgelê, waaronder personeeltekorte, swak kommunikasie, onvoldoende sekuriteit, gebrekkige instandhouding van toerusting en probleme met pasiëntesorg. 

Vir Colette het die bevindings nie die familie se vrae beantwoord nie. 

“Mense wil weet wanneer ek gaan opgee. Ek gaan nooit opgee nie. Ek sal nie ophou voordat ek geregtigheid vir my broer se dood gekry het nie. Ons sal aanhou totdat geregtigheid geskied,” het sy gesê. 

Pasiënt verdwyn ongemerk uit hospitaal 

Die kommer oor pasiëntveiligheid het in Augustus weer na vore gekom toe ’n vroulike pasiënt dood is nadat sy Witrand ongemerk verlaat en deur ’n voertuig getref is. 

Luidens ’n mediaverklaring van die provinsiale departement van gesondheid, is die pasiënt, wat sedert 22 Junie 2023 by die hospitaal opgeneem was, op 26 Augustus as vermis aangemeld. 

Volgens die departement het personeel haar afwesigheid tydens die vroeë oggend se badroetine in Vroue-afdeling 3 opgemerk. 

’n Soektog is op die hospitaalterrein en in die omliggende gebied van stapel gestuur. Sekuriteit is ook ingelig. 

Die bestuur is later meegedeel dat ’n persoon wat aan die beskrywing van die vermiste pasiënt voldoen, langs Promosaweg, naby die begraafplaas, gevind is. 

Die Ikageng-polisie het ’n saak van strafbare manslag geopen en gesê die omstandighede rondom die botsing word ondersoek. 

Suster wag op antwoorde 

Ronelle McCarthy wag steeds op die uitslag van ’n geregtelike ondersoek na die dood van haar suster, Julie Marlyn (59), wat op 24 November 2020 by die hospitaal oorlede is. 

Julie, wat sedert September 2009 by Witrand opgeneem was, het na bewering in haar saal verstik terwyl sy skyfies en malvalekkers geëet het. 

Ronelle bevraagteken egter steeds die omstandighede rondom haar dood. Sy beweer dat haar suster gereeld met kneusplekke by besoeke aangetref is en dat klagtes wat sy by die hospitaal aangeteken het, nie behoorlik opgevolg is nie. 

Die departement se ondersoek het bevind dat Julie waarskynlik verstik het en dat die beserings aan haar gesig tydens ’n val opgedoen is. Die nadoodse ondersoek kon verstikking egter nie as die oorsaak van dood bevestig nie, hoewel dit ook nie uitgesluit kon word nie. 

Die familie het steeds nie finale duidelikheid nie. Volgens Ronelle is die geregtelike ondersoek steeds hangende en die dossier by die hof. 

Die polisie het intussen bevestig dat ses sake wat met voorvalle by Witrand verband hou, in dié tydperk aangemeld is. Dit sluit twee aanrandingsake, twee verkragtingsake, ’n saak van seksuele aanranding en ’n diefstalsaak in. Volgens die polisie is geen personeellid as verdagte in enige van dié sake geïmpliseer nie. 

Vir Ronelle bly die vraag wat met haar suster gebeur het, steeds onbeantwoord. 

Medikasietekorte vererger uitdagings 

Benewens die vrae oor pasiëntveiligheid en versorging moes Witrand vroeër vanjaar ook pasiënte gerusstel oor ’n tekort aan Venlafaxine 75 mg- en 150 mg-kapsules in die openbare gesondheidsektor. 

Die tekort het gevolg nadat ’n bestaande voorsieningskontrak beëindig is weens probleme met voorraadbeskikbaarheid by die aangestelde farmaseutiese maatskappy. 

Witrand het in Junie gesê ’n nuwe verskaffer is aangestel, maar dat die medikasie eers vanaf September beskikbaar sou wees. 

Masiu het destyds beklemtoon dat pasiënte nie sonder behandeling gelaat sou word nie en dat alternatiewe medikasie met dieselfde doeltreffendheid beskikbaar gestel word. 

Die hospitaal se farmaseutiese terapeutiese komitee, wat ook psigiaters insluit, vergader maandeliks om medikasiebeskikbaarheid en geskikte alternatiewe te monitor. 

Hoewel die medikasietekort nie met die betrokke sterftes verbind is nie, bied dit verdere insig in die uitdagings waarmee die instelling en sy pasiënte te kampe gehad het. 

Beloftes is nie genoeg nie 

Ná die ondersoek na Quinton se dood het die departement onderneem om ingrypende verbeterings by Witrand aan te bring. 

’n Spesiale intervensietaakspan is saamgestel om die implementering van die aanbevelings oor ses maande te monitor. 

Verbeterings wat reeds aangebring is, sluit die installering van 26 nuwe lugversorgers, die vervanging van 41 gebreekte vensters en die herstel van beligtingsprobleme in. 

Die hospitaal se wassery bly egter ’n uitdaging, met slegs drie van die agt masjiene wat werk. 

Lehari het gesê die departement se doelwit is om pasiëntveiligheid te versterk en te verseker dat pasiënte met waardigheid, deernis en professionaliteit behandel word. 

Hy het ook erken dat die verlies van ’n lewe nie ongedaan gemaak kan word nie, maar dat daar uit die ondersoek se bevindings geleer moet word. 

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Tania Smith

As a passionate journalist and photographer, I strive to tell meaningful stories through both words and images. With a keen eye for detail and a love for people and their stories, I aim to capture the heart of every moment and bring local news and community stories to life.
Back to top button