‘Kokkedoor’-deelnemer nie gekaap of ontvoer: Mariana se leuens onthul

'n Vrou wie se verdwyning landwyd opslae gemaak het, verduidelik hoe sy die slagoffer van aanlyn-afpersers geword het en mislei is om te dink dat sy liefde in Italië gevind het.

 Mariana Kotze was nie gekaap nie, sy was nie ontvoer nie, sy was vasgevang in ‘n romantiese aanlyn-slenter wat haar derduisende rande gekos het.

Die land was die week op hol oor die voormalige Kokkedoor-deelnemer se verdwyning en bewerings dat sy ontvoer is. In ‘n stemboodskap aan haar man, Boland, word daar gedreig dat sy doodgemaak sou word indien pogings om fondse te onttrek, gestop sou word.

Om hierdie berig in Engels te lees, kliek hier.

Boland het onmiddellik ‘n ontvoeringsaak by die polisie oopgemaak.  Willem Enslin en Jacques Kotzé (nie verwant aan die egpaar nie) se hulp is ook ingeroep.

Woensdag, terwyl Enslin en Kotzé by Boland was, het die egpaar se kinders gebel en gesê hul ma het hul hewig ontsteld gebel en gesê dat sy haarself in ‘n gastehuis in Kempton Park bevind.

Hierna is die Ekurhuleni Metropolisie se taakspan ingeroep om haar by die gastehuis te gaan haal en na veiligheid te neem.

Enslin en Kotzé het die hulp van Juandré Rautenbach van Divergent Ops ingeroep en onmiddellik gery om haar in Kempton Park te gaan haal en huistoe te neem. Almal was op daardie stadium onder die indruk dat Mariana se lewe in gevaar was en dat die ‘ontvoerders’ steeds ‘n bedreiging inhou.

Mariana kry video-instruksies

Donderdagoggend het Mariana ‘n onderhoud aan Laevelder toegestaan waarin sy vertel het hoe sy in ‘n kuberslenter vasgevang was, derduisende rande aan haar afpersers betaal het en dat hul gedreig het om haar man dood te maak en kinders leed aan te doen as sy nie nog geld aan hul gee nie.

Sy het vertel dat sy Sondagaand, 1 Februarie, om 21:00 ’n one-time video (dit kan slegs een keer gekyk word en verdwyn dan) op WhatsApp ontvang het wat haar beveel het om haar tasse te pak en die Maandagoggend na Komatipoort toe te ry.

Op pad terug Marlothpark toe, is sy glo deur ‘n voertuig van die pad gedwing waar twee mans in haar motor gespring, ’n wapen teen haar kop gehou en haar gedwing het om Malalane toe te ry.

In Malalane aangekom is die stemnota gemaak en aan haar man gestuur. Hierna het sy na bewering hul instruksies gevolg en na Gauteng gereis.

CCTV-beeldmateriaal bewys anders

Dit was egter alles leuens. Na die onderhoud gepubliseer is, het Laevelder verskeie CCTV-beeldmateriaal ontvang wat duidelik wys dat Mariana alleen in Malalane aangekom en rondgery het, in ‘n stadium by ‘n man gestop en toe dadelik in Nelspruit se rigting vertrek het.

Daar was na Mariana se weergawe egter nog talle onbeantwoorde vrae rondom haar verdwyning. Verdere ondersoek deur Enslin, Kotzé, Rautenbach en Laevelder het die antwoorde ontbloot.

Vanoggend (7 Februarie) het Laevelder weer vir Mariana geleentheid gegee om op die nuwe inligting en bewyse wat na vore gekom het, te reageer. In die onderhoud met beide Mariana en Boland, het sy het erken dat sy oneerlik was.

“Die hele storie het in Junie verlede jaar begin toe ek vir ‘n kompetisie ingeskryf het om kaartjies na Wimbledon te wen. Kort hierna het ‘n persoon wat homself Alex genoem het, bevestig dat ek die wenner was en ek het dit aan Boland gewys. Die kaartjies sou binne twee weke by my wees.”

Boland sê hy het onmiddellik gesê dit was ‘n klomp bog en toe die kaartjies nie opdaag nie, het ‘Alex’ weer met haar gepraat en gesê daar het ‘n fout ingesluip. Die kaartjies het nooit by haar uitgekom nie.

Mariana afgedreig deur kuber-misdadiger

Maar die gesprekke het tot ‘n aanlyn-verhouding gevorder wat meer intiem geword het, en sy is toe afgedreig. Mariana het R350 000 aan die kubermisdadiger betaal.

In Desember het Mariana op ‘n WhatsApp-boodskap van ‘Jannik Sinner’, die Italiaanse tenisspeler gereageer en die twee het begin gesels. Die vriendskap het weer vlam gevat. (Sulke tipe aanlyn verhoudings waar mense uit geld bedrieg word, staan algemeen bekend as ‘n catfishing-slenter of sweetheart scam.)

Mariana sê sy was nie bewus wie Sinner eintlik was nie, behalwe dat hy ‘n tennisspeler in Italië was.

Sy is nooit afgepers nie maar ‘Sinner’ het haar oortuig om by hom aan te sluit. Mariana vertel: “Hy het gesê dat ek R400 000 aan hom moet betaal dan sal hy die kaartjies en visums alles vir my reël.”

Mariana het ‘n aansoek vir ‘n onttrekking uit ‘n belegging ingedien. “Dit was ook hy wat die kapingstorie voorgestel het sodat ek kon seker maak dat die fondse makliker sou uitbetaal.”

Sy het uit vrye wil Maandagoggend ‘n tassie gepak met die voornemens om by hom aan te sluit.

“Ek het vir Boland gesê ek het ‘n bestelling vir platters gekry en moes die bestanddele gaan koop. Ek is Komatipoort toe en dit sal op my transaksierekord wys. Ek het gesigprodukte gekoop asook R 1000 cash-back transaksie gemaak.”

Stemboodskap is gefabriseer

Van hier af, is sy direk Malalane toe waar sy rondgery het: “Ek het by ‘n man op straat gestop en hom gevra om die boodskap wat ek neergeskryf het, te lees sodat ek dit kon opneem. Hiervoor het ek hom R800 betaal.”

Sy sê hy kon nie Kotze reg uitspreek nie en daarom klink dit op die boodskap of dit ‘Scott’ is. Mariana het die byklanke wat haar vrees uitbeeld, self gedoen.

Om die stemboodskap te luister lees hier: Vermiste Mariana Kotze se motor in Mbombela opgespoor

Die boodskap het sy aan Boland en die finansiële adviseur gestuur. “Ek wou seker maak dat die onttrekking uit my belegging nie gestop word nie.”

Maar, haar wakker adviseur het die aansoek afgekeur, ‘n besluit wat Mariana eers ‘n paar dae later sou agterkom en vandag diep dankbaar voor is.

Intussen het sy self haar kaartjie na O.R. Tambo op LimeTime Shuttle bespreek asook die verblyf in Kempton Park. “Ek wou so goedkoop as moontlik bly tot ek kon vlieg.”

Woensdag het die paniek haar getref. “Ek het besef wat ek besig was om te doen verkeerd was. My moed het my begewe. Ek het gevra ‘Here, wat doen ek?’”

Sy het haar kinders gebel en ‘gebreek’ toe sy met hulle praat. Die gesprek met haar kinders is opgeneem en haar skoonseun het dit kort hierna na Boland gestuur. Enslin en Kotzé was toevallig by hom toe dit deur gekom het en dis hoe die proses begin is om haar terug te bring Laeveld toe.

“Die foon wat ek gebreek het, was my eie ou Samsung foon wat ek gebruik het om al hierdie gesprekke mee te voer.”

‘n Skermskoot van die boodskap.

Vrydagoggend (gister) is ‘n SMS na Boland se foon gestuur, want Mariana het tans geen werkende foon nie. Dit lees: “MK, you tried to run, went about it the wrong way. We still want our money. Instructions to follow. Slim Gat.”

Die oorsprong van hierdie boodskap is onbekend.

Diep berou oor skade en hartseer

Mariana het diep berou oor alles wat haar optrede veroorsaak het: “Ek wil sê dankie vir my almal wat vir my gebid het. Ek is baie jammer vir dit waardeur almal moes gaan. Ek is bitter jammer vir wat ek aan my man, Boland, gedoen het. Ek is hartseer oor wat ek aan my vier volwasse kinders en kleinkinders gedoen het.

“Wat nou volg is ‘n lang en moeilike pad om weer hul vertroue te wen. Daar is baie vroue wat deur dieselfde gaan ek bid dat die Here hul sal bystaan. Mag daar iewers vergifnis en genesing kom.

“Dit voel of daar ‘n ton klippe van my skouers af is, die waarheid het my vry gemaak. Maar daar is baie skade.”

Boland het gesê hy dink hy is moontlik nog in skok. Die volle waarheid is eers gisteraand en vanoggend met hom gedeel: “Ek is besig om dit te verwerk. Ek is kalm en ek weet nie waar my kalmte vandaan kom nie. Daar mag dalk moontlik naskok kom en ek aanvaar dit. Sy het vir my gelieg en dis baie swaar vir my.”

Die egpaar het besluit om weg te breek en die trauma te gaan verwerk. “Ons het hierdie storie nou een keer vertel, nou wil ons met rus gelaat word sodat ons genesing kan vind”, het Boland benadruk.

Mariana gaan vir sielkundige berading as hulle weer tuis is.

Enslin het aan Laevelder gesê: “Die waarheid is nou uit. Baie mense is in die proses betrek en ek het simpatie met haar en die oom. Kubermisdaad is ‘n realiteit en sy was ‘n slagoffer daarvan hoewel sy end-uit geglo het dis ‘n realiteit.”

Aanlyn-kuberbedrog neem skerp toe

Bedrog met aanlyn-romanse, ook bekend as catfishing scams, het die afgelope paar jaar aansienlik toegeneem namate meer mense hul toevlug tot digitale platforms neem. In 2022 is Suid-Afrikaners volgens die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (CSIR) van meer as R125 miljoen beroof deur sogenaamde dating scammers.

Hierdie kommerwekkende tendens het voortgeduur. Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) se misdaadstatistiek vir kwartaal 2 van die 2024/2025-boekjaar het kommersiële misdaad met 18% gestyg, met romansebedrog wat ’n beduidende bydrae tot hierdie toename gelewer het. Die syfers beklemtoon hoe noodsaaklik dit is dat mense waaksaam bly en hulself beskerm.

Die bereik van hierdie sindikate word toenemend wêreldwyd. Tydens ’n pan-Afrikaanse operasie in 2025 het Interpol 260 vermeende swendelaars in 14 lande in hegtenis geneem. Meer as 1 400 slagoffers is geïdentifiseer wat bykans $2,8 miljoen (ongeveer R45 miljoen) verloor het aan romansebedrog en sekstorsie.

For the English version of this article, click here.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Irma Green

Irma is Group Editor: Caxton Local Media and an award winning journalist who specialises in investigative reporting. She has been in local media journalism for 33 years.
Back to top button