Kyk: Brande woed in Bela-Bela, Mookgophong en Lephalale
Inwoners van Zwartkloof buite Bela-Bela word tans ontruim weens 'n brand wat verwoesting saai.
Talle brande in verskeie dele van Limpopo saai tans verwoesting in dié provinsie.
Die Pos het vroeër berig dat sowat 60 brandbestryders vure geblus het op Zwartkloof Highlands en Lekker Breek in Bela-Bela.
“Die brand op Zwartkloof is nog nie onder beheer nie en die brandspanne werk onverpoos om die vlamme te probeer blus,” het die publikasie vroeër gesê.
Die koerant het egter in ‘n opdatering genoem dat die area tans ontruim word, en motoriste gemaan om versigtig te wees op die R516 (Thabazimbi-pad) .

Terwyl die brande steeds buite Bela-Bela voortduur, verneem Die Pos dat Karoi Lodge net buite Mookgophong ook aan die brand is. Die brand het vanmiddag uitgebreek en rig groot skade aan soos gesien kan word in die video:
Na berig word is Steenbokpan, Lephalale, nog ‘n area wat brand. Die sterk wind blaas die vlamme aan en saai verwoesting.
Daar is sprake dat ‘n man naby Modimolle vir brandstigting in hegtenis geneem is, maar dit kon nog nie bevestig word nie.
Hierdie verwoestende brande kom ‘n week nadat grootskaalse skade in die Mabalingwe-natuurreservaat aangerig is.
Read original story on www.citizen.co.za