Modimolle-slangvanger wag dae vir reuse-luislang om uit gat te kruip
Met drie ystervarkpenne deur haar nek en twee mannetjies wat flankeer, het ‘n luislang in Limpopo ’n toegewyde slangvanger behoorlik hard laat werk.
’n Slangvanger van Modimolle in Limpopo het vir drie dae geduldig vir ‘Eva se kind’ gewag om uit ’n gat te kruip sodat hy haar kon verlos van drie ystervarkpenne wat deur haar nek gesteek het.
Theunis Victor (55) se geduld is beloon nadat dié luislang eers Maandagmiddag (8 Junie) uit die gat gekruip het. Hy die reusewyfie – van oor die 4.2 m – met “sy twee kaal hande gevang.”
Victor, wat al die afgelope dekade ’n professionele slangvanger is, se avontuur het Saterdagoggend (7 Junie) begin nadat ’n plaaslike beesboer, Adriaan Louw, hom gebel het om die beseerde slang te vang.
“Adriaan het vir my ’n video van ’n reuse-luislang wat hy op sy plaas gesien het gestuur. Ons vermoed sy het in ’n ystervarkgat ingeseil en daar het sy en die ystervark behoorlik kop gestamp. Adriaan het my gevra om haar te help,” vertel hy.
Die luislang is ’n inheemse, bedreigde spesie. Ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet van 2004 is dit onwettig om hulle sonder ‘n permit dood te maak, te vang of aan te hou.
Iemand wat skuldig bevind word aan ‘n oortreding wat ‘n beskermde spesie behels, kan ’n boete van tot R10m, of gevangenisstraf van tot 10 jaar, of beide opgelê word.
“En boonop kan toordokters ook nie altyd hulle hande van luislange afhou nie. Hulle ingewande maak glo goeie moetie,” sê Victor.
Só het Victor daardie oggend die pad na Adriaan se plaas, wat sowat 30 km uit die dorp is, gevat. “Twee vriende was saam met my. Ons het die gat stilletjies bekruip, maar sy het ingegly en verdwyn. Ek het die heeldag by die gat gewag; sy wou nie uitkom nie.”
Moed opgee is min
Die Sondagoggend het hy besluit om weer na haar te soek. Dié keer het daar ’n mannetjie voor die gat gesis. “Sy was ook op hitte en skei ’n spesifieke reuk af. Dié dat sy die mannetjies gelok het,” verduidelik Victor.
Die mannetjies se teenwoordigheid het ook nie gehelp om die wyfie uit die gat te lok nie. Victor het die mannetjie gevang en dié twee was vriendelik verplig om mekaar se geselskap te verduur. “Die dame was beslis nie lus vir een van ons nie,” lag Victor.
Victor het slapelose nagte oor dié wyfie gehad en het die Maandagoggend besluit om weer die kilometers na Adriaan se plaas aan te durf. “Ek het wragtig nog ’n mannetjie by die gat gekry en hom ook gevang. Ek het, soos die vorige twee dae, maar rondgestap en die natuur bewonder.”
Maar opgee was min en hy het besluit om op sy vangkrat onder ’n koelteboom te sit en vir haar te wag.
“Ek het ’n beweging uit die hoek van my oog gesien, nader aan die gat gekruip en drie penne sien uitsteek. Dit was sy! Dit was nou of nooit. Ek het ’n sak saagsels in die gat gedruk sodat sy nie weer kon inseil nie. Sy het agtergekom ek is daar en wou weer vinnig wegseil, maar ek het haar agter die kop gevang en die penne versigtig uitgetrek.”
Die wyfie se wonde is behandel en sy is weer in die natuur vrygelaat.
Slange is nie ‘duiwel se kinders’
Victor sê daar is net twee slangvangers op die dorp en die boere en gemeenskap hou hulle besig.
’n Slangvanger moet geakkrediteer wees om slange te vang, te rehabiliteer en weer in die natuur vry te laat. “Ons word nie betaal om die werk te doen nie, maar vra gewoonlik so ‘klein call-out-fooi’. Om ’n slangvanger te wees sit nou nie noodwendig brood op die tafel nie,” sug hy.
Hy het in die stadium nie ’n ander werk nie.
Hy bied ook gereeld praatjies oor slange aan. “Slange is nie die duiwel se kinders nie. Hulle speel ’n belangrike rol in die ekologiese stelsel. Bel eerder ’n slangvanger voordat jy hul doodslaan.”
Victor het 12 slange wat hy as troeteldiere aanhou. Almal het die nodige permitte.
En ja, as hulle name soos Mollie, Spoutie en Puffy het, dan weet jy dié slange het lankal ’n ystervarkgat in hul baas se hart gegrawe.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za