N1 ongeluk eis 5 lewens: ‘My hele lewe weg’ sê pa
’n Hartgebroke pa vertel hoe hy moes toekyk toe die motor voor hom, met sy geliefdes in, skielik begin rol.
Wat ‘n blye dag moes wees oor ‘n familielid wat teruggekeer het uit die Verenigde State, het in ‘n tragedie geëindig na ‘n gru-ongeluk sowat 10km voor die Sebetiela-tolhek op die N1 op 8 November.
Minette van Wyk (33), ‘n visum-agent wat landbouwerkers bygestaan het om oorsese visums te bekom, was saam met haar broer Dawie Snyder, haar twee kinders, Joanette Claassen (10), JH Snyder (13) en haar stiefseun Christiaan van Wyk (10) in die voertuig, wat omgeslaan en verskeie kere gerol het.
Lees ook: Maatjies groet vir Christiaan
Al die insittendes is in die voorval uit die motor geslinger en het op die toneel gesterf.
Dawie het as tydelike H2A-landbouwerker oorsee gewerk en het pas uit die VS teruggekeer.
Volgens die Padverkeerbestuurskorporasie was die wit Volvo waarin hulle gery het die enigste voertuig wat in die ongeluk betrokke was. Voorlopige verslae dui daarop dat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het, waarna dit omgeslaan en verskeie kere gerol het.
Minette se man Flippie van Wyk en sy dogter was ‘n ent agter hulle in ‘n ander voertuig onderweg toe die ongeluk gebeur het.
“Ek het agter hulle gery en skielik was daar net ‘n stofwolk. Ek moes uitswaai vir die buffer wat in my rigting gekom het, maar min het ek geweet dat my lewe vir ewig sou verander,” het Flippie vertel.
Hy herleef die oomblikke na die ongeluk.
“My vrou was ‘n meter-en-half weg van die motor af, sy was nog warm en ek kon nog ‘n paar hartkloppe voel.
“Sowat vier sekondes later was sy weg. My seun het twee meter van hulle af op die kant van die pad gelê. Hy het nog asemgehaal, maar is ook op die toneel dood verklaar toe die mediese personeel daar opdaag.
“In my lewe sou ek nie kon dink dat so iets met my sou gebeur nie, maar dit het. My hele lewe is in ‘n oogwink van my af weggevat.”
Die finansiële las van ‘n begrafnis rus tans swaar op die familie en ‘n Back-a-Buddy-rekening is gestig vir enige bystand.
Intussen het die LUR vir vervoer, Violet Mathye, boodskappe van meegevoel aan die familie gestuur.
“Ek is saam met julle in hierdie hartverskeurende tyd,” het sy gesê.
Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek en die voertuig sal vir verdere ondersoek beveilig word.
Die N1 ongeluk volg kort nadat vyf lede van die Herbst gesin 24 Oktober op die N4 in Schoemanskloof, tussen Machadodorp en Mbombela, dood is.
Pieter en Chantelle Herbst en hul dogters Anzelle (4), Kara (Gr. 3) en Mienke Marais Herbst (Gr. 7) is dood toe hul bakkie trompop met ‘n trok gebots het.
Read original story on www.citizen.co.za