Nataniël-optrede: Godsdienskenner ontleed ‘morele paniek’ onder Afrikaners
’n Optrede by Afrikaans is Groot het ’n hewige debat onder Afrikaners oor geloof, kulturele verdraagsaamheid en artistieke uitdrukking ontketen.
’n Dominee van ’n NG gemeente in die suide van Johannesburg het dié week kaalvuis onder Afrikaners ingeklim wat ‘die duiwel so gretig bemark’.
Dit volg nadat die kunstenaar Nataniël le Roux (alombekend as Nataniël) onder die skerp tonge van sosialemediagebruikers deurgeloop het ná sy optredes by die Afrikaans is Groot (AIG)-konsert wat Sondag (29 November) ten einde loop.
’n Facebook-inskrywing deur JC Lamprecht het soos die duiwel en al sy trawante die loop geneem en het aanleiding gegee tot vurige debatte oor godsdiens en artistieke vryhede. Lamprecht het ná Vrydagaand (20 November) se vertoning gesê dat hy nie wou deelneem aan wat hy as die verheerliking van die goddelose beskou het nie.
Lamprecht wou nie verder kommentaar lewer nie.
Ds. André Kloppers van die NG gemeente Forest Hill meen egter dat dit die tipe sosiale paniek is wat krities veroordeel moet word. “As Nataniël die bose verteenwoordig, dan is ek ook die boosheid vanself, want ek is ’n groot ondersteuner van sy werk.”
Kloppers glo dat dit veral die Afrikaners is wat iemand soek om voor kwaad te wees. “As ons ’n rugbywedstryd verloor is ons kwaad vir Rassie [Erasmus] en as iets nie by ons eie oortuigings inpas nie, noem ons dit goddeloos of die duiwel se werk.’’
Hy is dit eens dat Christene soms té veel dinge aan die duiwel toeskryf, dat dit eintlik ‘spoke uit hul eie verlede is wat hulle teister’ en dat hulle eerder daarop moet fokus as om altyd iets as boos te beskou.
“Nataniël se kuns is nie anti-Christelik nie. Ek het hom nog altyd ervaar as besonder kreatief, maar net soos die groep Spoegwolf – waarvan ek ook ‘n ondersteuner is – pas hy nie altyd binne die meer konserwatiewe Christelike raamwerk nie. Dit is waarom hul kuns juis soms nie werklik verstaan word nie.’’
Morele paniek
Dr Tristán Kapp, ‘n godsdienswetenskaplike en postdoktorale navorsingsgenoot aan die Universiteit van Wes-Kaapland, meen die huidige reaksie is deel van ‘n terugkerende patroon waarin die fokuspunte van morele paniek verander, maar die onderliggende vrese dieselfde bly.
Hy verwys na die laat 19de eeu, toe kommunisme en swart mense as bedreigings voorgehou is, en vergelyk dit met hedendaagse verwysings na die EFF, LGBTQ+-gemeenskap, liberalisme en sogenaamde wokeness.
Volgens Kapp gaan dit uiteindelik oor diversiteit en die bedreiging wat dit vir ‘n homogene kulturele gemaksone inhou.
“Daar bestaan steeds ‘n opvatting onder sommige Afrikaners dat hulle alleen seggenskap oor Afrikaans, Afrikaanse media en kuns behoort te hê,’’ sê hy.
Kapp sê die bestempeling van kunstenaars en hul werk as satanies is ook nie noodwendig ‘n opregte geloofsbelydenis nie, maar kan deel vorm van ‘n groter kultuurstryd waarin alles wat die bestaande orde bevraagteken, verdag gemaak word.
“Die Satanisme-etiket, wat vroeër hoofsaaklik as ‘n simbool van morele angs gefunksioneer het, word deesdae ook as ‘n kommersiële taktiek gebruik.’’
Volgens hom word godsdienstige taal toenemend ingespan om kulturele en politieke konflikte te verpak, terwyl sekere sosialemediapersoonlikhede voordeel uit sogenaamde geestelike oorlogvoering trek.
“Sosiale media versterk hierdie soort konflik omdat algoritmes inhoud bevorder wat reaksie uitlok en gebruikers dikwels in eggokamers laat beland,’’ sê hy.
Hy verwys na ‘n eksperiment op sy eie Facebook-tydlyn waarin slegs ongeveer een uit elke 10 plasings van vriende afkomstig was. Die res het bestaan uit blaaie wat hy nie volg nie en advertensies.
Volgens hom is gebruikersbetrokkenheid, advertensies en die insameling van data belangrike dryfvere agter die platforms se sakemodelle.
Devon Hofmeyr spring ook in
Intussen het Devon Hofmeyr, die sanger Steve se seun, ook sterk standpunt teen Nataniël se optrede ingeneem. Dit is nie duidelik of hy wel die konsert bygewoon het nie.
Hofmeyr skryf op sy Facebook-blad dat die grootste probleem nie noodwendig is of daardie spesifieke segment by Afrikaans is Groot demonies was of nie.
“Die groter probleem lê in wat ons as samelewing bereid is om te begin normaliseer. Want dit is hoe grense stelselmatig verskuif word. Vandag is dit iets waaroor ons debatteer, môre is dit iets waaraan ons gewoond geraak het, en oormôre bevraagteken niemand dit meer nie.”
Hy skryf verder dat Christene moet verstaan dat nie alles wat as vermaak aangebied word, onskuldig is nie. “Ons kan nie aanhou om dinge af te water, ons standaarde te verskuif en ons gewetens stil te maak net omdat iets gewild of aanvaarbaar in die wêreld geword het nie.
“Die gevaar is nie net dit wat ons vandag sien nie, maar dit waaraan ons môre gewoond gaan wees. Ons moet waaksaam bly. Want wat ons vandag normaliseer, kan môre die deur oopmaak vir dinge waarteen ons vroeër sonder huiwering sou opstaan.’’
Spervuur van konserwatiewe kritiek
Dit is nie die eerste keer dat Nataniël hom in die spervuur van konserwatiewe kritiek bevind nie.
Reeds vroeg in sy loopbaan het sy eiesoortige verhoogpersoonlikheid en openlike andersheid sommige dele van die Afrikaanse gemeenskap ontstel.
In die laat tagtigerjare het hy in die konserwatiewe Pretoria opgetree in ’n tyd toe sy soort verhoogpersona nog as uitdagend en onaanvaarbaar beskou is.
Die apartheidsregering se sensuurstelsel het boonop ’n klimaat geskep waarin kunstenaars se werk aan streng amptelike beheer onderwerp is.

Die klavierspeler en musikant Thinus Esterhuizen is die voormalige hoof van die SAUK se musiekbiblioteek. Hy sê sensuur was destyds deel van die proses waardeur musiek vir radio-uitsendings goedgekeur is.
“Daar moes na alle snitte op enkelsnitte, langspeelplate en later CD’s geluister word voordat dit vir radiospeellyste goedgekeur is.’’
Volgens Esterhuizen was daar vyf kriteria waarvolgens musiek beoordeel is: Godsdiens, verbode middels, seks, politiek en swak smaak.
Verdagte snitte is aan ’n komitee voorgelê. Die personeel wat die musiek vooraf beluister het, het volgens hom slegs ’n administratiewe rol vervul en kon nie self besluite oor sensuur neem nie.
“Sou iets afgekeur word, moes die diskoteek die plate aanpas en die snitte merk as ‘do not play’ of ‘avoid’,’’ sê hy.
Nataniël se musiek het ook nie heeltemal aan hierdie beoordeling ontkom nie. Sekere woorde of verwysings wat as te seksueel beskou is, moes vir radio-uitsending aangepas of weggelaat word.
Dit was veral verwysings na ’n naked angel in een van Nataniël se liedjies wat die sensuurvaders vreeslik ontstig het.
Esterhuizen onthou die verwysing na die woorde slegs vaagweg en kan nie met sekerheid bevestig presies watter woorde of gedeelte ter sprake was nie. Hy wys daarop dat platemaatskappye ook dikwels hul eie radio-weergawes van liedjies gemaak het om dit vir uitsending geskik te maak.
Die huidige kritiek op Nataniël se vertoning roep dus ou vrae op oor wie die reg het om kuns te beoordeel en waar die grens tussen persoonlike geloof en artistieke vryheid lê.
Carien Loubser, die artistieke direkteur van AIG, sê die antwoord is eenvoudig: Die Grondwet beskerm kunstenaars.
Artikel 16(1)(c) van die Suid-Afrikaanse Grondwet beskerm uitdruklik die vryheid van artistieke skepping.
“Ek meen egter nie Nataniël hoef beskerm te word nie, omdat die inhoud van sy optrede nie godslasterlik is nie. As dit wel die geval was, sou 50 000 mense uit die konsert gestap het en nie net een persoon nie.’’
Waaroor gaan die bohaai?
Volgens ’n konsertganger, wat verkies om anoniem te bly, het sosialemediagebruikers die baba saam met die badwater uitgegooi.
“Die segment begin met sy liedjie Gogga, wat handel oor die innerlike stemmetjie – daardie innerlike stem wat elkeen van ons in onsself het,’’ sê sy. “Ek het dit persoonlik baie geniet en het glad nie gevoel dat onheil in die lug hang nie.”
Nataniël het dié liedjie spesiaal vir die AIG-konsert geskryf.
Loubser sê Nataniël gebruik die beeldspraak van ‘n gogga om hierdie innerlike stem voor te stel.
Tydens die liedjie marsjeer hy saam met die dansers deur ‘n wêreld wat op die skerms uitgebeeld word as hard, koud en ongenaakbaar. “Die industriële en futuristiese beeldmateriaal is simbolies van die wêreld waarin ons onsself soms bevind,’’ verduidelik sy.
“Die hele toneel is ‘n simboliese uitbeelding van hoe Nataniël uiteindelik sy plek, vrede en tuiskoms gevind het. Dit gaan oor selfontdekking, aanvaarding en die ontdekking van dit wat jou as mens vervulling gee.’’
Caxton Netwerk-nuus het gister ’n e-posnavraag aan Nataniël gestuur, maar hy het nie ten tyde van die publikasie gereageer nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za