Pretoria-ma maak hart oop ná enigste kind in pa se arms sterf
'n Ouerpaar van Laerskool Roodeplaat is in rou gedompel nadat hul sesjarige seun Maandag in sy pa se arms dood is aan breinvliesontsteking.
’n Graad 1-seun van Pretoria, Milan Pretorius (6), is Maandag in sy pa se arms oorlede aan bakteriële breinvliesontsteking. Sy ma breinvliesontstekinghet vroeër vandag aan Pretoria Rekord vertel klein Milan het Sondag gekla van hoofpyn en sy het toe gesien hy het koors.
“Ons al drie kry gewoonlik koors en hoofpyn veral van die hitte en Sondag was dit baie warm. Milan het gesê sy koppie is seer en hy het koors gehad. Ek het vir hom medisyne gegee en hy het bietjie gaan lê op die bank.”
Sy sê toe Milan later wakker word het hy gesê sy lyfie is seer, maar hy het oudergewoonte gespeel. Later Sondagaand het Milan weer vir sy ma gesê sy lyfie is baie seer en hy voel baie sleg. Bianca sê nadat hulle vir hom iets vir koors gegee het en hom in ‘n louwarm bad gesit het, het dit gelyk asof sy koors daal.
“Milan het op ons bed gelê, hy het begin opgooi. Ons het hom skoongemaak en hy het so gehuil want hy was bekommerd omdat ons bed nat was.”
Gesin in isolasie geplaas
Bianca en haar man, Luard, het toe met klein Milan na die Montana-hospitaal gejaag waar die gesin dadelik in isolasie geplaas is.
“Hulle het by die aankoms vir ons gesê dit is moontlik breinvliesontsteking oor die blou kolletjies wat op sy vel sigbaar was. Milan is opgeneem en verskeie bloedtoetse is gedoen.”
Die bloedtoetse het bevestig dit is meningokokke-breinvliesontsteking, ook bekend as bakteriële meningitis.
“Ons het steeds geen idee waar hy in aanraking was met enige iemand wat dit het nie. Die dokters het gesê hy kon dit selfs by ‘n vreemdeling in die winkels gekry het.”
Teen Maandagoggend is Milan per ambulans na die Mediclinic Medforum-hospitaal geneem vir ‘n beskikbare bed in die intensiewe sorgeenheid.
40 minute ná aankoms oorlede
“Ek was saam met Milan in die ambulans en Luard het agter ons aangery. Milan het steeds koors gehad, maar net sy koppie en bors was warm, die res van sy lyfie was yskoud.”
Bianca sê Milan het met tye bygekom maar dit was asof hy nie geweet het wat om hom aangaan nie.
“By die hospitaal het die dokters hom dadelik op suurstof gesit. Die blou kolletjies het al oor sy lyfie begin versprei. Ongeveer 40 minute ná aankoms het Milan sy laaste asem uitgeblaas. Hy was in sy pappa se arms,” het ‘n huilende Bianca gesê.
Milan is Bianca en Luard se enigste kind.
Só word hy onthou
“Milan was die liefdevolste, vriendelikste seuntjie wat altyd wou help en baie lief was vir kos maak, kamp en saam met pappa visvang.”
Sy sê hy was ‘n seuntjie wat baie lief was vir monster-vragmotors. “Ons was juis Saterdag besig om vir hom ‘n lekker baan vir sy remote control Crawler te bou.”
‘n Emosionele Bianca sê dit voel alles nog baie onwerklik vir hulle. “Dit voel asof ons hom nou-nou by die skool moet gaan haal.”
Milan se begrafnis word voorlopige beplan vir Dinsdag 13:00 vanuit die Simplicity Lokaal, Plot 28 Reier Kameeldrif, Roodeplaat.
Laerskool Die Poort se woordvoerder, Nic Arnold, het aan Rekord bevestig dat beraders gereël is vir Milan se maatjies, asook vir personeellede.
“Ons hou Vrydag ’n gedenkdiens vir Milan by die skool,” het Arnold gesê.
Arnold het bygevoeg dat die Departement van Gesondheid besig is om reëlings te tref om inentings by die skool te doen.
Hy het verder gesê Milan is die enigste leerder by die skool wat met breinvliesontsteking gediagnoseer is.
“Ons het ouers gevra om waaksaam te wees en enige soortgelyke simptome onmiddellik te rapporteer.”
Rekord het navrae aan die Departement van Onderwys gestuur, maar teen vanmiddag was daar nog geen reaksie nie.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za