SA-onderwyser dood in Thailand: Vereeniging-ma soek antwoorde
Terwyl sy haar seun se dood verwerk, veg Anroux Kruger se ma teen wilde aanlyn gerugte oor wat werklik in Thailand gebeur het. Sy vermoed vuilspel.
“My enigste kind is dood en nou word allerhande leuens oor sy dood op sosiale media versprei. Bewerings dat hy selfdood gekies het of dat daar poeier gevind is, is bloot nie waar nie.”
Só sê ’n diep geskokte Nairda Kruger van Vereeniging, ma van die 30-jarige Arnoux Kruger, wat onlangs in Thailand gesterf het.
Vaalweekblad berig dat terwyl sy probeer om die verlies te verwerk, sy terselfdertyd veg teen ’n vlaag van ongegronde bespiegelinge wat aanlyn kop uitsteek.
Arnoux was jare lank ’n geliefde onderwyser by Milton Primary in Vereeniging voordat hy die Vaaldriehoek vir China verruil het.
Hy was gaande oor sy nuwe avontuur, maar weens visum-komplikasies in September, moes hy tydelik na Bangkok in Thailand verhuis terwyl hy op sy heraansoek gewag het.
In die tussentyd het hy as gasheer by Revolution Hostel gewerk.
Herontmoeting-planne in die wiele gery
Sy plan was om middel April na Suid-Afrika terug te keer om sy visum-sake van hier af te hanteer. Dit is ’n herontmoeting waarna sy ma met groot verlange uitgesien het.
“My plan was om hom te probeer oortuig om eerder hier te bly, vir my, en ter wille van sy agtjarige dogtertjie,” vertel ‘n hartseer Nairda.
Die droom van ’n hereniging is Dinsdag egter kortgeknip toe Nairda die tyding ontvang het dat Arnoux dood in sy kamer gevind is. Arnoux en ‘n Russiese vriend is saam dood aangetref.
Hoewel die ondersoek nog voortduur, is daar vermoedens dat hulle moontlik vergiftig kon wees.
Vir sy familie is die onsekerheid ’n swaar las. “Die lykskouing is nog nie gedoen nie, so ek as ma het tans geen antwoorde nie. Die leuens op sosiale media breek net my hart verder,” sê sy.
Foto’s gekoester
Nairda koester nou die laaste foto’s van haar seun, wat slegs ure voor sy dood geneem is.
“Op die foto kan mens sien hoe gelukkig hy daar was,” vertel Nairda. ’n Skerp kontras met die tragedie wat gevolg het.

Arnoux was die enigste kind van Nairda en Pieter Kruger, en is van sesjarige ouderdom deur sy ma en sy ouma, Drienie van Deventer, grootgemaak.
Buiten sy ma, ouma en dogtertjie, laat hy ook sy pa, ’n halfbroer en -suster, en ’n wye vriendekring agter.
Hy sal onthou word as ’n lewenslustige, sosiale jong man met ’n unieke slag om mense te laat lag.
- Arnoux se gedenkdiens word op 26 April om 11:00 by Milton Primary gehou.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za