VEREENIGING – “My enigste kind is dood en nou word allerhande leuens oor sy dood op sosiale media versprei. Bewerings dat hy selfdood gekies het of dat daar poeier gevind is, is bloot nie waar nie.”
So sê ’n diep geskokte Nairda Kruger, ma van die 30-jarige Anroux Kruger, wat onlangs in Thailand gesterf het.
Terwyl sy probeer om die verlies te verwerk, veg sy terselfdertyd teen ’n vlaag van ongegronde bespiegelinge wat aanlyn kop uitsteek.
Arnoux was jare lank ’n geliefde onderwyser by Milton Primary in Vereeniging voordat hy die Vaaldriehoek vir China verruil het.
Hy was gaande oor sy nuwe avontuur, maar weens visum-komplikasies in September 2025, moes hy tydelik na Bangkok in Thailand verhuis terwyl hy op sy heraansoek gewag het.
In die tussentyd het hy as gasheer by Revolution Hostel gewerk.
Sy plan was om middel April na Suid-Afrika terug te keer om sy visum-sake van hier af te hanteer. Dit is ’n herontmoeting waarna sy ma met groot verlange uitgesien het.
“My plan was om hom te probeer oortuig om eerder hier te bly, vir my, en ter wille van sy agtjarige dogtertjie,” vertel ‘n hartseer Nairda.
Die droom van ’n hereniging is egter op 7 April kortgeknip toe Nairda die tyding ontvang het dat Arnoux dood in sy kamer gevind is. Anroux en ‘n Russiese vriend is saam dood aangetref.
Hoewel die ondersoek nog voortduur, is daar vermoedens dat hulle moontlik vergiftig kon wees.
Vir sy familie is die onsekerheid ’n swaar las. “Die lykskouing is nog nie gedoen nie, so ek as ma het tans geen antwoorde nie. Die leuens op sosiale media breek net my hart verder,” sê sy.
Nairda koester nou die laaste foto’s van haar seun, wat slegs ure voor sy dood geneem is.


“Op die foto kan mens sien hoe gelukkig hy daar was,” vertel Nairda. ’n Skerp kontras met die tragedie wat gevolg het.
Anroux was die enigste kind van Nairda en Pieter Kruger, en is van sesjarige ouderdom deur sy ma en sy ouma, Drienie van Deventer, grootgemaak.
Buiten sy ma, ouma en dogtertjie, laat hy ook sy pa, ’n halfbroer en -suster, en ’n wye vriendekring agter.
Hy sal onthou word as ’n lewenslustige, sosiale jong man met ’n unieke slag om mense te laat lag.
