Network Sport

Jong skopbokser van Fochville is wéér wêreldkampioen

Negejarige Liam van Wyk het onlangs sy tweede wêreldtitel verower toe hy die Thailand Kickboxing World Cup in Bangkok gewen het.

‘n Jong skopbokser van Fochville het onlangs vir die tweede keer met ‘n wêreldtitel in dié sportsoort weggestap.

Volgens Carletonville Fochville Herald het negejarige Liam van Wyk verlede maand sy staal tydens die tweede Thailand Kickboxing World Cup gewys. Liam, ‘n leerder van Laerskool Fochville wat deel is van die United Martial Arts International skopboksklub in Benoni, het tydens die byeenkoms as wenner van die afdeling vir vegters van 10 tot 12 jaar weggestap.

Dié wêreldkampioenskap is in Bangkok, Thailand gehou.

Volgens Liam se ma, Gwen, presteer hy reeds lank in dié sportsoort.

“Sy reis het op ‘n baie jong ouderdom begin toe hy reeds ‘n besondere passie en talent vir skopboks gewys het. Van die begin af was dit duidelik dat hy nie net deelneem nie, maar uitblink. Met elke oefensessie, elke kompetisie en elke uitdaging het hy gegroei, nie net as ‘n atleet nie, maar ook as ‘n jong seun met ongelooflike dissipline en deursettingsvermoë,” sê Gwen.

Eerste wêreldtitel

Liam se pad na die wêreldverhoog is ‘n bewys van konsekwente uitnemendheid. Dié jong ster het sy stempel begin afdruk deur sy afdeling in die Gauteng-kampioenskap te wen, gevolg deur ‘n oorwinning by die nasionale kampioenskap.

Hy het daarna Suid-Afrika in Antalya, Turkye, verteenwoordig, waar hy sy eerste wêreldtitel verower het.

Dieselfde jaar het hy ook die geleentheid gehad om saam met die wêreld se top skopboksers te oefen tydens The Legends Summer Camp in Griekeland. Hierdie was ‘n ervaring wat sy groei as atleet verder versterk het.

In 2026 het hy voortgebou op hierdie sukses deur weer die Gauteng-kampioenskap te wen, gevolg deur nóg ‘n oorwinning by die nasionale kampioenskappe. Dié oorwinnings het hom in staat gestel om in Thailand te gaan deelneem.

Jaag sy droom na

“Wat Liam werklik uitsonder, is sy ingesteldheid. Hy gee altyd sy alles, bly nederig in oorwinning en leer uit elke ervaring. Sy prestasies is nie net oorwinnings op die tatami (die matte waarop gevegskuns beoefen word) nie, maar die resultaat van jare se vasbyt, ondersteuning van sy afrigters en familie, en ‘n droom wat hy met volle oorgawe nastreef,” sê sy ma.

Sy voeg by dat Liam se reis nog lank nie verby is nie. Hy gaan aan die einde van Junie weer Suid-Afrika verteenwoordig by die African Continental Championship in Kameroen, en in September reis hy na Italië om deel te neem aan die World Association of Kickboxing Organisations se junior wêreldkampioenskap, waar hy weer Suid-Afrika op die wêreldverhoog sal verteenwoordig.

“Vir ons is hy nie net ‘n kampioen nie, maar ‘n inspirasie, ‘n bewys dat harde werk, geloof en passie werklik groot drome kan laat realiseer,” sluit Gwen af.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Adele Louw

Adele has been in the community media since 1997, first in Mpumalanga and since 2008 in Gauteng, and is passionate about giving a voice to residents of all communities.

Related Articles

Back to top button