Plaaslike sanger se kersplanne
Sanger en liedjieskrywer, Tiaan Grundling, vertel vir Rekord van sy nuwe album, wat die Kersseisoen vir hom beteken en sy nuwejaarsvoornemens.
Sanger en liedjieskrywer, Tiaan Grundling van Pretoria, maak vining groot naam vir homself. Dié kunstenaar beskryf homself as ‘n persoon wat lewe vir musiek en dat hy niks anders in sy lewe sal kan doen nie. Grundling het met Rekord gesels oor sy nuwe album, sy planne vir die kersseisoen en wat sy aanhangers van hom kan verwag in die nuwe jaar.
Verduidelik jou musiekstyl:
My musiekstyl is vir seker vir die dansvloer. Ek is egter ook ‘n baie diep mens, so die publiek kan altyd iets rustigs by my vertonings verwag.
Hoe lank is jy al in die musiekbedryf?
Ek sing al vir 14 jaar lank. Ek het op hoërskool die moed bymekaar geskraap om op die verhoog te klim. Pas daarna het ek tussendeur die skoolwerk saam met my ouers gereeld elke naweek die pad aangedurf vir optredes. Nadat ek in 2002 gematrikuleer het, kon ek my volle aandag aan my sangloopbaan gee.
Vertel meer oor jou nuwe album:
My nuwe album, After-Paartie, is in September 2013 vrygestel. Die album bevat treffers soos As die hemel huil, Klop Klop en my Eurovision liedjie, Party vir almal. Hierdie liedjie was ‘n groot sukses in Europa en dit was ‘n voorreg om hierdie liedjie op te neem.
Wat is jou planne vir Kersfees?
Ek gaan Kersfees saam met my familie spandeer en dan gaan ek na die mooie Kaap vir twee weke. Daar wag ‘n paar optredes vir my in die Moederstad en ek wil ook van die geleentheid gebruik maak om ‘n bietjie te rus.
Wat beteken Kersfees vir jou?
Ek geniet dit om Kersfees te kan gee. Om vir ander te gee of om vir ander iets te kan doen, al is dit hoe klein, verskaf vir my groot vreugde.
Gaan jy enige kersliedere opneem?
Ek het reeds Stillenag opgeneem. Lesers kan gerus my webtuiste (www.tiaangrundling.co.za) besoek om hierdie Kersliedjie gratis af te laai. Ek het dit spesiaal opgeneem om dankie te sê vir almal se liefde en lojale ondersteuning.
En nuwejaarsvoornemens?
My nuwejaarsvoornemens is om die lewe meer te geniet en van dag-tot-dag te leef. Die lewe is soms so ‘n gejaag na niks dat ‘n persoon somtyds geneig is om te vergeet om so nou-en-dan asem te skep en net die lewe te geniet.
Wat kan jou aanhangers van jou verwag in die nuwe jaar?
My planne vir 2014 is om te fokus op my studies en om met die opnames van my eerste gospel album te begin. Ek het ook ‘n sangskool wat ek graag weer heeltemal op dreef wil kry.