Land se voorste mampoerstokers byeen

Suid-Afrika se mampoerkonings ding eersdaags mee vir die die prys as beste stoker.

Vir maande al berei die land se voorste stokers hulle voor vir die mampoerfees wat vanjaar op 31 Mei by die Willem Prinsloo-landboumuseum plaasvind.

Die fees is ‘n hoogtepunt op die jaarkalender van die museum en die Kultuurstokergilde van SA. Die afgelope 30 jaar kom die land se voorste stokers hier byeen om hulle produkte teen mededingers te ‘toets.’

En ‘n aardigheid is dit wel. Vir die stokers is hulle stook-stokperdjie ‘n saak van dodelike erns en is ‘n vrug nie net sommer ‘n vrug nie. Met die geur en smaak in gedagte word daar gestook, tuitmond geproe en as iets nie is soos wat hul ingedagte gehad nie, word dit van nuuts af gestook. En party van die eindresultate het soms ‘n allemintige skop.

”Jy sien,” soos ‘n ervare stoker verduidelik, ”Ons ken omtrent al almal wat werklik weet hoe om te stook. Dus is die mededinging kwaai en jou produk moet nie net skop hê nie, maar ook ‘n fyn balans tussen smaak, kleur en geur,” sê hy.

Die konsensus onder die stokers is: die Skotte het whiskey, die Grieke het ouzo, die Hollanders het jenewer en ons Suid Afrikaners kan trots wees op ons eie eksklusiewe mampoer en witblits.

Mampoer staan ook bekend as tiermelk, hardehout of vuurwater. Dit het soms selfs onvleiende name soos doringdraad of dinamiet – alles afhangende hoe kwaai dit gestook is. Plaaslik word dié warm voggies mampoer genoem in navolging van die Pedi-hoofman Mampuru wat na bewering die eerste persoon was wat mampoer van perskes gestook het. Deesdae word alle vrugte, buiten druiwe, wat gestook word mampoer genoem.

Ons voorsate was ook sommer gou om die mediese en gesondheidsvoordele van mampoer raak te sien: suiwer mampoer gemeng met kruie help glo vir griep, verkoue en koors. As smeermiddel is mampoer goed vir spatare. Meng mampoer met kaneel, naeltjies en neutmuskaat en jy het ‘n uitstekende tonikum.

Die fees word aangebied om die eiesoortige kultuur van mampoerstook by feesgangers tuis te bring.

Mampoerstokers van die Kultuurstokersgilde kom van regoor die land om aan die nasionale kampioenskappe deel te neem. Beoordeling geskied volgens nasionaal erkende reëls.

Die kampioen-drank sal by die fees per sopie geproe en per bottel verkoop word.

Likeurs met ‘n witblitsbasis word ook beoordeel. Elke stoker het sy eie spesialiteit likeur en daar word lank reeds met verskillende eksotiese vrugte- en ander geure geëksperimenteer, onder andere anys, pipperment, koffie en sjokolade. Roomlikeur word ook gemaak. Dit neem ongeveer vyf maande om so ‘n uitsonderlike likeur gereed te kry vir die kampioenskap. Die likeur het normaalweg ‘n alkoholinhoud van ongeveer 23%.

Soos wat met so ‘n fees gebruiklik is, is daar hard gewerk om ook ander aktiwiteite vir die feesgangers aan te bied. Die gaskunstenaar vir die dag is Manie Jackson. Demonstrasie van tradisionele plaas- en werfaktiwiteite op die ou plaaswerf soos brood bak, kerse maak en ganse pluk sal beleef kan word.

Ander aktiwiteite is:

– ATKV Centurion-sangersforum en pretkompetisies (aartappel skil en vele meer)

– Boeresport aangebied deur die Handhawer Jeug

– Uitstalling en demonstrasies van veteraantrekkers en -motors

– Vlooimark en kosstalletjies te kies en te keur

– ‘n Biertuin

– Pap en kaiings, gemmerbier en soetkoekies by die ou plaashuis

– ‘n Groot verskeidenheid mampoer en likeurs te koop en te proe

Die Willem Prinsloo-landboumuseum kan bereik word vanaf die Pretoria-Witbank-snelweg (N4), afrit 27 na Rayton en Cullinan langs die ou Bronkhorstspruitpad (R104). Vir navrae skakel 012-736-2035 / 6 of 076-054-5229.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button