Henco Jacobs se internasionale rolprentsukses en toekomsplanne

Henco J het verlede jaar internasionale faam bekom toe hy die Jameson First Shot kompetisie gewen het.

‘n Villieria-man is besig om opslae te maak in die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.

Henco Jacobs, ook bekend as Henco J, is besig met ‘n nuwe komedie vir die grootskerm, nadat hy verlede jaar saam met internasionaal bekende akteurs Kevin Spacey en Uma Thurman, aan sy eie fliek gewerk het.

Jacobs het in 2014 die gesogde Jameson First Shot kompetisie, van Trigger Street Productions (wat aan Kevin Spacey en Dana Brunetti behoort), gewen en daarmee die geleentheid om sy eie kortfliek in Los Angeles te gaan verfilm.

Die bekende aktrise, Uma Thurman, het die hoofrol in Henco se produksie, The Mundane Goddess, vertolk.

“Dit was ‘n ongelooflike ervaring, veral om vir Kevin Spacey – een van my grootste ‘idols’ – te ontmoet. Dan was dit ook soveel pret om saam met ‘n professionele span te werk en vir Uma Thurman te regisseer,” het Jacobs gesê.

“Kevin het gesê ek moet terugkom Suid-Afrika toe en my stempel kom afdruk.”

Jacobs werk tans aan ‘n nuwe komedie waarmee verfilming teen die einde van die jaar sal begin. “Die projek is nog in die beginfase en baie ‘hush hush’, maar ons hoop om teen die einde van die jaar te begin verfilm.”

Gebore en getoë in Villieria, is Henco nie ‘n man wat te ver van die Jakarandastad wandel nie. Hy woon al 33-jaar in dieselfde huis en het skoolgegaan, eers in Laerskool Totiusdal en toe in Hoërskool Oos-Moot. Hy het ‘n meestersgraad in drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie voltooi.

“Ek wil fokus op regie en skryf. Dit is vir my belangrik om Afrikaanse rolprente te maak en ek wil graag hier bly om sulke stories te skryf en te vervaardig, maar ek sal ook graag weer in Amerika wil werk, net omdat hulle op so groot skaal werk,” het hy gesê.

“Ek is baie lief vir Pretoria en hoop om vir altyd hier te woon. Ek geniet die mense van die Moot en die hele Moot voel vir my soos ‘n klein dorp in ‘n groot stad.”

Jacobs is besig om ‘n kortfliek, Flying High, vir verskeie kunsteater- en rolprent-kompetisies in te skryf. Hierdie produksie is ook verlede jaar vir die 48 Hour Film Project 2014 ingeskryf. Vyf van die mense wat saam met hom aan dié projek gewerk het, is self van die Moot afkomstig.

“Ons kortfliek het verlede jaar die beste regisseur, beste musiekpartituur en beste choreograaf gewen en is genomineer vir beste draaiboek en beste rolprent, maar omdat ons nie beste rolprent gewen het nie, het ons nie gevorder tot die volgende uitdunne nie.”

Jacobs beloof egter dat Flying High teen die einde van die jaar ook soos sy fliek The Mundane Goddess op Youtube te sien sal wees. Vir tyd en wyl is hy gelukkig en geëerd dat The Mundane Goddess reeds oor die twee miljoen besoeke op Youtube het.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Exit mobile version