As die tyd ons begin inhaal…
Het jy al,wanneer jy ‘n doodgewone, normale, alledaagse aksie uitgevoer, soos byvoorbeeld die vuilgoed uitvat sypaadjie toe op ‘n Maandagoggend, agtergekom dat die sakke skielik swaarder voel? Dis net asof jy nie meer dieselfde oempf, dieselfde va-va-voom as gewoonlik het nie. Wanneer dit vir jou voel of middagete al hoe nader aan brekvis kom, jou …
Het jy al,wanneer jy ‘n doodgewone, normale, alledaagse aksie uitgevoer, soos byvoorbeeld die vuilgoed uitvat sypaadjie toe op ‘n Maandagoggend, agtergekom dat die sakke skielik swaarder voel? Dis net asof jy nie meer dieselfde oempf, dieselfde va-va-voom as gewoonlik het nie. Wanneer dit vir jou voel of middagete al hoe nader aan brekvis kom, jou kar al hoe hoër van die grond af begin raak en jou kinders nie meer omgee as jy hulle sien rook nie, dan weet jy: die tyd begin jou inhaal. Jy raak oud…
Jy weet dit wanneer jou redakteur jou weer herinner dat jou volgende rubriek se deadline voor die deur is, en jy seker is dat jou laaste email nog nie eers klaar gestuur het, of wanneer jou computer ten minste drie keer op ‘n dag sommer self reboot, dan weet jy, daar is ‘n oorsaak vir wat met jou gebeur. As jy deur ‘n robot ry, en jy nie kan onthou watter kleur die ding was nie, of jy kan teen teetyd nie meer onthou of jy jou tande geborsel het, dan weet jy daar is ‘n probleem…
Probleem? Wat van as jy deur die huis loop en verbete na jou kar se sleutels soek, en uit pure frustrasie die hond skop omdat jy dit nie kry nie, en skielik te wonder wanneer het jy dan dié hond gekry het, dan weet jy daar’s ‘n helse boggerop, Veral as jou vrou dan vir jou wys dat jy met die sleutels in jou hand rondloop. Of as jy jou sonbril soek as dit op jou kop sit, en jy jou selfoon in die yskas kry. Ek kon sweer ek het die ding nou net op die charger gesit? Daai wallet wat jy nou nét in jou hande gehad het, maar wat nou net weg is…
Kan jy nie onthou waar jy jou kar by Pick en Pay se parkeerterrein gelos het nie? Jy moes melk en brood en Orange light vrugtesap gaan koop het, én daai video gaan teruggee het. Jy stap deur die winkel, koop ‘n Coke en tjoklits en kan dan voor dood nie onthou wat nog nie. Jy kom by die huis, sukkel jou gat af met die honde by die hek, en dan sien jy die video nog op die dashbord lê. Nadat jy klaar die kar afgesit het. Dan kom vra die vrou waar’s die melk. Watter melk? Jy ruk jou gat in ‘n krul vir jouself, ry terug Spar toe en vergeet dié slag die brood, want jy het met die intrapslag in Frenchie vasgeloop en toe begin julle te gesels.
Op pad terug huis toe, net verby die oogarts in Victoriastraat, bel vroulief en vra jy moet ‘n Richard Gere – movie kry. Weer omdraai? Jou gebreekte kiestand begin uit sy eie te klop, en jy begin sulke ligte krampe in jou agterwêreld kry. Jou buurman se papegaai groet jou voor hom in die oggende, en jy begin wonder of jy nie iets moet begin rook nie….



