Aap word gehijack, en Die Tarantaal word Burgermeester…
Ek sit so neffens die jakarandaboom, op ‘n stoeltjie staangemaak om die klein bokkertjies by my hek te vang wat dink hulle is oulik as hulle op my interkom kom tamboer en dan weghol. Die bullie lê voor my voete. Ons begin eintlik al half-vaak raak van al die rustigheid wat oor ons neerdaal, toe …

Ek sit so neffens die jakarandaboom, op ‘n stoeltjie staangemaak om die klein bokkertjies by my hek te vang wat dink hulle is oulik as hulle op my interkom kom tamboer en dan weghol.
Die bullie lê voor my voete. Ons begin eintlik al half-vaak raak van al die rustigheid wat oor ons neerdaal, toe ek dit hoor.
Onder in die straat kom Aap se Harley aan. En nog drie van hulle. Die ou vloeksteen kom staan in my hek, en draai daai moerse bike se oor nog ‘n slag. Die bullie vlieg briesend op. Sy tref die hek met ‘n slag wat Aap sy kop laat wegruk dat die Raybanne op sy smoel daar in die vuilgoedjies gaan val wat op die sypaadjies al heuphoogte groei.
Dan sien ek dat ou Aap redelik flenters is daar waar hy op sy bike sit. Ek ploeg die bullie agter die swarthekkie in, en maak die groot hek oop.
“Wat de donner het met julle gebeur?” vra ek verstom. “Julle is dan helemaal bas-af en verwoes. Opgebliksem…”
Aap brom iets. Hy verskuif sy nine mil. “Grmmspppkwf…”
“Hoe nou?”
“Ons was gebrumpfrolblllll…”
Een van die luitenante trek sy helmet af. Sy een oog is toegeplak onder die bloukol. “En jy…?! Het iemand julle gedonner…?”
Die Harleys is verwetter en bekrap. Die Tarentaal bel my. “Het jy van Aap gehoor…?” skrou hy oor die found dat Aap self kan hoor.
“Nee, wat?!”
“Hulle het hom daar naby Volksrust gehijack,” brul Die Tarentaal. Dan bars hy in ‘n maniese lagbui uit. Dit was genoeg.
Aap pluk sy helmet af. Hy is goed gemoer. Hulle staan nader.
“Ons het daar op ‘n plaaspad naby Snowy’s berig gekry van ‘n gesteelde kar,” sê hy. Ek en hierdie drie morone is uit soontoe, maar hulle het ons sien kom.”
Die luitenant praat skielik. “Ons word toe in ‘n lokval gelui, en gevang. Hulle het ons guns en bikes gevat, en ons in hulle vên toegesluit. Gelukkig het Aap darem Herman de Wet se selnommer gehad, en het hy hom gebel. Anders was ons nou nog daar,” brom ons held.
“My dooie donner. En toe?” Ek verbeel my ek hoor die bullie giggel by die hek.
“Nee, Aap het gedag hy gaan mos toe nou met hulle kom diknek raak, en begin daai drie skebengas uitskel…”
“En dis mos toe daar wat hulle julle klomp bietjie pak gee, nê?” Begin ek giggel.
“Man, dissie snaaks nie,” brom Aap skielik. “Die hele Noord-Natal het daar gestaan toe daai klomp Boere ons uit die trok bevry het.”
“En hier dag ek ons het reën op pad. Dis toe allie tyd die Boere wat julle uitlag, en nie donnerweer nie.”
“Gmpf,” brom die luitenant. “Daai kom nog.”
“Dis nou as Miesies Aap moet hoor hulle het daai fensie selfoon wat sy vir hom vir Krismis gekoop het, afgevat,” smaak die ander luitenant onner sy full face uit.
“O-o-o-oh,” begin ek simpatiseer.
“Sy weet al,” sug Aap.
“Eh?”
“Hoekom dink jy is die ou so vol knoppe…? Miesies Aap se hannewerk,” begin die ander lag.
Red nou ‘n volk.



