BlogsDie WoestynrotOpinion

Beboep en bebling sukkel ons stampend en stotend deur die dag

As jy nou weer in die winkel kom om kruideniersware te koop, doen jouself ‘n guns en bestudeer bietjie die inhoud van kos wat jy wil kry. Daar word nou nuwe geluide gemaak oor die laevet-voedselindustrie en al die dinge wat hulle kwansuis sou doen om mense hulle produkte te laat koop. Kom ons vra bietjie …

As jy nou weer in die winkel kom om kruideniersware te koop, doen jouself ‘n guns en bestudeer bietjie die inhoud van kos wat jy wil kry. Daar word nou nuwe geluide gemaak oor die laevet-voedselindustrie en al die dinge wat hulle kwansuis sou doen om mense hulle produkte te laat koop. 
Kom ons vra bietjie die melkboere: as jy melk vat, en jy onttrek al die vet daaruit (of jy los 2% vir die huisvrouens), hoe gaan dit smaak…?
Dis eenvoudig. Soos hond se agterent. Nou wat nou…? 
Nou gaan hulle en voeg tonne suiker by al hierdie laevetprodukte, om dit beter te laat smaak. Mense koop die goed, oefen hulle gatte af, ly honger, en wonder hoekom hulle nie gewig verloor nie. 
In antwoord op een van my vrae is ek vertel dis omdat mense insulien-weerstandig begin raak, honger bly, aanhoudend eet, of peusel, en hope koolhidrate bly verorber.
Nou, nog steeds baie skepties, het ek verder gaan krap, en is vertel dat jy met een klein botteltjie lemoensap, die suiker van tot 12 lemoene in kry, en hierdie oggendpap wat so in bokse verkoop word, is so opgewarm met suiker dat jy tot 27 lepels suiker inkry as jy ‘n bakkie pap in die oggend met laevetmelk eet. Dan praat ons nie eens van laevet-mayonnaise nie. 
Die Bowman sal bly wees daaroor.
Die huidige voorbrand wat gemaak word vir lae koolhidraat-hoë vet diëte is nie ‘n gewigsverlies-dieët nie, dis ‘n eetplan wat jou minder van suiker gaan afhanklik maak, en meer konsentreer op vet, die mens se natuurlike brandstof. 
Okay, goed… daar gaan ons. Dis nogal nie so maklik om suiker uit te skakel nie, maar ek gril as ek dink aan daai klomp suiker wat jy saam met ‘n bottel Coke kan inkry as jy die ekwivalent van ‘n halwe pak suiker vat en begin dit met ‘n lepeltjie te eet.
Nou, ons is nie voedseltegnoloeë of dieëtkundiges nie, maar dinge begin sin te maak. Ek is ook vertel dat ons verslaaf raak aan suiker soos wat jy aan kokaien of heroien verslaaf raak, en dit pas die korporatiewes in die voedselproduserende wêreld dat ons so bly. Vat ‘n blok botter en gaan sit dit buite neer. Dit word vrot. Kyk nou wat maak margerien. Vertel dit nie ‘n storie nie…?
Okay, nou vra ek myself af… is dit suiker wat ons so beboep en dikgattig maak, of is dit vet…? 
Al die jare is gesweer dis vet, vet is gif, is verkeerd, en nou eet ons almal laevet-grille en giere, maar ons bly nog steeds so dik soos baksteengeboude buitetoilette…? Nou hoe nou…?!
Dis die suiker, spyker… ons eet blykbaar tonne suiker sonder dat ons dit weet. En as ek die moeders van die volk (en ‘n paar vaders ook) so kyk, gaan dit ‘n hele paar jaar nog so bly. 
As suiker dan ‘n verslawing is, hoekom word ooreet en obesiteit (m.a.w., as jy soos ‘n swanger seekoei lyk) ‘n siekte genoem in party dele van die wêreld, maar hulle sluit almal dwelmverslaafdes toe…?
Ek vra maar net…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button