As daai klapper in die park ontplof, wie gaan terugskiet…?
En daar rol 2015 oor ons met die gebruiklike geskiet en geknal wat al die ander ook maar gedoen het. Die enigste verskil is net dat hierdie jaar het een of twee siele vyf dae in die nuwejaar in, nog steeds klappers geskiet, en altyd op die tye waneer jy daardie luide knal nie regtig …

En daar rol 2015 oor ons met die gebruiklike geskiet en geknal wat al die ander ook maar gedoen het. Die enigste verskil is net dat hierdie jaar het een of twee siele vyf dae in die nuwejaar in, nog steeds klappers geskiet, en altyd op die tye waneer jy daardie luide knal nie regtig verwag nie. Ek bedoel, wie skiet nog teen die 5de Januarie…?
Of is dit nou soos die Kapenaars maak met Tweede Nuwejaar, of dalk Derde en Vierde Nuwejaar…..?
Daar kyk bepaalde engeltjies na ons, en veral na ons hondekinders, en die gewoonlike gruwels het ons, met die vyf brakke-loseerders op my werf, gelukkig gespaar gebly. Daar het egter foto’s ingekom van honde wat hulself aan heinings opgehang het, of deur toe vensters probeer spring het om weg te kom van die luide knalle.
Ons het ‘n bepaalde geskiedenis met hierdie kultuur van klappers skiet. Daar is meer as een geleentheid gedurende die jaar waar mense vuurwerke afsit, en meer as een keer het ek al moes keer vir my paaltjie.
Hoekom…?
Kyk, ek verpes vuurwerke en springstof in enige vorm, en het ‘n bepaalde afkeur gehad aan springtoestelle soos personeelmyne en diesmeer, en is elke jaar verstom oor die kragtige springtoestelle wat in kinders se hande geplaas word. Treurige verhale van kinders wat vingers en oë verloor, en siek monsters wat diere, veral honde, doodmartel met klappers, word elke jaar gesien. Elke jaar, sonder uitsondering.
Nou wanneer gaan ons hierdie ou lessie leer…? Hmmmm….?
Of gaan ons elke jaar religieuse sensitiwiteit pleit, en maar toelaat dat hierdie gemors keer op keer verkoop word…?
Hoeveel honde gaan nog hul lewens verloor teen palisadeheinings of met uiteengerukte ingewande…?
Ek het hierdie jaar ‘n kuiergas gehad wat onder mediese behandeling staan vir posttraumatiese stressversteuring, en luide knalle soos deur vuurwerke veroorsaak, lei oombliklik tot angsaanvalle. Het jy, wat so lekker daardie wettige bom in die park afskiet, al ‘n angsaanval gesien…?
Ek het, en dis nie mooi nie. Ek het self ‘n welbekende gly aan vuurwerke, en daardie man wat een nag die goed in die straat voor my huis afgeskiet het, het dit duidelik gesien, en ek dink die helfte van Eventide het dit seker ook gehoor.
Ek dag eers iemand skiet op my, en toe ek die stukke op my dak hoor val, dag ek dis afgevuurde projektiele wat ek hoor. Stel jouself nou in my plek voor, op daardie stadium. Nie almal van ons dink dis snaaks nie, en nie almal van ons hou van luide geraas en knalle nie.
Dis tyd dat ons iets uitwerk dat die klapperskieters uit die dorp geweer word, en iewers, soos op Mpatiberg gaan klappers skiet. Of Majubaberg dalk, nog beter.
Of gaan ons wag tot ‘n brandende vuurpyl iewers in iemand se komposhoop val, of iets dergeliks…? Of gaan ons wag tot daar weer ‘n kind met sy vingers afgeskiet op ‘n trollie in ‘n hospitaalgang lê…? Of die keer dalk sy gesig…?
Beheer vuurwerke. Nou.



